’n Besering in die Ierse rugbykamp het die deur vir nog ’n Suid-Afrikaner van geboorte oopgeswaai om deel van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan te wees.

Die 29-jarige Rob Herring, ’n haker, is ontbied in die plek van Sean Cronin, wat ’n besering tydens ’n oefening opgedoen het.

Herring, ’n boorling van Kaapstad en oud-leerling van SACS, het in 2014 sy toetsdebuut vir Ierland gemaak en reeds agt keer vir sy aangenome land diens gedoen.

Hy het reeds meer as 150 wedstryde vir die Ierse klubspan Ulster op sy kerfstok en voer dié span ook vanjaar in die Pro14-reeks aan.

Met Ierland se kaptein, Rory Best, wat die nr.2-trui dra, sal Herring dit uitspook met Niall Scannell vir ’n plek op die plaasvervangersbank in Saterdag se kwarteindstryd teen die All Blacks.

Herring is nie die enigste speler met Suid-Afrikaanse wortels in Ierland se groep van 31 spelers nie. Die losvoorspeler CJ Stander en die slot Jean Kleyn is ook in Suid-Afrika gebore en getoë.

Herring is die tweede speler wat deur die Iere opgeroep word weens beserings. Jordi Murphy, ’n losvoorspeler, het Jack Conan reeds verlede maand vervang. – Sportredaksie, Reuters