Die wêreld se voorste rugbyspan, Ierland, begin sy Wêreldbeker-veldtog vanoggend in Jokohama teen ’n Skotse span wat heel gemaklik is om nie as die gunsteling op die veld te draf nie.

Al die druk gaan op die Iere wees om die toernooi op ’n oortuigende wyse te begin en so aan die res van die spanne te wys dat hulle oorgehaal is om vanjaar ten minste die halfeindronde van die toernooi te haal. Ierland kon nog nooit verder as die kwarteind van die WB-toernooi vorder nie.

Rory Best, Ierse kaptein, word vandag die derde Ier wat in drie Wêreldbeker-toernooie speel.

Skotland, wat vanjaar strawwe teenstand in die Sesnasies-reeks teen die Iere gebied het, sal egter alles insit om ’n klip in die pad van Best-hulle te rol.

Dié tweestryd sal straks Ierland se moeilikste in groep A wees, wat spanne soos Japan, Samoa en Rusland insluit.

Vir Namibië wag daar ’n hoë eerste hekkie om oor te kom wanneer hulle Italië in Higasjiosaka pak.

Die All Blacks en Springbokke sal straks bankvas agter die Welwitchias wees en hoop hulle kan die Azzurri sommer vroeg in die toernooi ’n knou toedien.

Engeland kry in Groep C ook sy veldtog op koers met ’n wedstryd in Sapporo teen Tonga.

Dis duidelik dat die Engelse nie kanse gaan waag nie met Eddie Jones, uitgeslape Engelse breier, wat ’n sterk span vir dié stryd aangewys het.

  • Italië t. Namibië (07:15); Ierland t. Skotland (09:45); Engeland t. Tonga (12:15).