Benewens die All Blacks, is Ierland die span wat Rassie Erasmus ná die openingswedstryde van vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan sover die meeste beïndruk het.

Slaag die Bokke daarin om hul oorblywende Groep B-wedstryde teen Namibië, Italië en Kanada te wen, sal Ierland hul teenstander in die kwarteindronde wees.

“Ek was baie beïndruk met Ierland (in hul sege van 27-3 oor Skotland),” sê Erasmus, die Bok-hoofafrigter.

“Afgesien van Nieu-Seeland, was Ierland die enigste ander span wat ’n volle 80 minute van konstruktiewe, goed beplande, fisieke, taktiese en kliniese rugby uitgestal het.”

Die wêreldranglys weerspieël volgens hom Ierland en Nieu-Seeland se bestendige spel.

Richie Mo’unga stuur die bal na sy vleuel met ’n vaardige skoppie. Die All Blacks het die Bokke verras met hul taktiese skopwerk. Foto: Getty Images

“Almal lag oor die wêreldranglys, maar daardie spanne (Ierland en die All Blacks) was die afgelope twee jaar bestendig.

“Ierland sal ’n gedugte teenstander in die kwarteindronde wees. Soos sake tans staan, sal hulle ons teenstander wees.

“Ek moet in dieselfde asem sê dat Ierland nog eers met Japan moet afreken. Ek reken Japan is ’n glibberige span.

“Ons moet ook nog ook eers verby Italië en twee ander energieke spanne (Namibië en Kanada) kom.”

Afgesien van Nieu-Seeland, was Ierland die enigste ander span wat ’n volle 80 minute van konstruktiewe, goed beplande, fisieke, taktiese en kliniese rugby uitgestal het.

Erasmus het op ’n persoonlike noot gesê sy Ierse draai was alles die moeite werd. Hy was in 2016 en 2017 die Ierse klubspan Munster se direkteur van rugby en hul hoofafrigter.

“Ek het ’n beter afrigter in Ierland geword. Ek het baie by Munster en andere soos Joe Schmidt (Ierland se Nieu-Seelandse hoofafrigter), die paar kere wat ek met hom te doen gekry het, geleer terwyl ek by Munster betrokke was.

“Ek het ’n hoë agting vir hom (Schmidt) as ’n afrigter.”

Erasmus het ook Nieu-Seeland se Steve Hansen as ’n “goeie afrigter” uitgesonder.

Nieu-Seeland het volgens die Bok-afrigter verdien om sy span met 23-13 in Jokohama te klop.

“Hulle het ’n klomp nuwe dinge in ons rigting gegooi (in Jokohama), wat eintlik meer deel van óns wedstrydplan is. Hulle het sewe keer meer as ons geskop.

“Hulle het vir seker bietjie konserwatiewer gespeel.

Ek aanvaar ook dat daar dinge is wat ons sal moet verander indien ons die Wêreldbeker wil wen.

“As ons daarin slaag om verder as die groepfase te vorder en weer teen hulle (die All Blacks) speel, glo ek dis dinge wat ons met ons personeel en styl wat ons speel kan oorkom.

“Ek aanvaar ook dat daar dinge is wat ons sal moet verander indien ons die Wêreldbeker wil wen.”

Die Bokke se afronding was iets wat Erasmus teen die All Blacks gepla het.

Hy het wel net twee spelers in sy beginspan vir die Namibiese toetse behou wat teen die All Blacks betrokke was, maar Erasmus sal wil hê dat sy sogenaamde B-span reeds Saterdag beter in Toyota moet afrond.