Die beseringspook het Ierland genoop om ’n betreklik onervare agterste driehoek in die veld te stoot vir sy eerste kragmeting by die Wêreldbeker-rugbytoernooi (WB) teen Skotland Sondag in Jokohama.

Joe Schmidt, die Ierse rugbyspan se breier, het besluit om liefs nie met die ervare Rob Kearney (heelagter) en Keith Earls (vleuel) te waag nie – hoewel albei hul beserings afgeskud het. Sonder Kearney (92 toetse) en Earls (78) lyk Ierland se agterlyn effens kwesbaar en boonop is die senter Robbie Henshaw (38) ook nie fiks nie.

Andrew Conway vervang Earls en Jordan Larmour, meer bekend as ’n vleuel, neem Kearney se plek.

Dit beteken dat Johnny Sexton, die Iere se losskakel en generaal, met ’n klomp groentjies, wat hul eerste proesel van die WB gaan kry, aan sy buitekant gaan sit.

Schmidt beskou egter nie die afwesigheid van dié handvol strydrosse as die einde van die wêreld nie, maar eerder as ’n kans vir die jonges om hul stempel af te druk.

“Dit is opwindend om die agterste driehoek te hê wat ons het – dit is ’n goeie en opwindende geleentheid vir hulle,” het Schmidt volgens Reuters gesê.

Peter O’Mahony, CJ Stander en Josh van der Flier is die lostrio, met Iain Henderson en James Ryan die slotte. Vir die Suid-Afrikaner van geboorte Jean Kleyn (slot) was daar nie plek in die 23-tal nie.

O’Mahony en kie se stryd by die afbreekpunte teen die Skotte se John Barclay, Hamish Watson en Ryan Wilson kan maklik die hoogtepunt wees. Watson het sy tande ’n paar jaar gelede geslyp as sewesspeler en is een van daardie woestaards wat nie bang is om sy hande vuil te maak nie.

Hamish Watson vroeër vanjaar in aksie teen Engeland in die Sesnasies-reeks. Foto: Getty Images

Gregor Townsend, die Skotte se afrigter, het ’n redelik gevestigde span gekies – met meer as 600 toetse se ervaring agter hul name.

“Soos die wedstryd nader kom, het ons baie fokus op die kleiner aspekte van ons spel geplaas. Die harde werk vir Sondag se wedstryd is in die voorseisoen gedoen,” sê Townsend in ’n verklaring van die Skotse Rugbyunie.

“Ons span het baie ervaring daarin om in groot wedstryde vir Skotland te speel. Dan is daar ook die spelers op die plaasvervangersbank wat ’n verskil kan maak indien hulle benodig word.”

Die Iere moet straks die gunsteling wees, hulle is immers die nr. 1-span op die wêreldranglys en het boonop die Skotte vroeër vanjaar in die Sesnasies-reeks op Murrayfield geklop. Hoe dit ook al sy, dié Skotse span is nie jou speelmaat nie.

Ierland: Jordan Larmour, Andrew Conway, Garry Rigrose, Bundee Aki, Jacob Stockdale, Johnny Sexton, Conor Murray, CJ Stander, Josh van der Flier, Peter O’Mahony, James Ryan, Iain Henderson, Tadhg Furlong, Rory Best (k) en Cian Healy. PLAASVERVANGERS: Niall Scannell, Dave Kilcoyne, Andrew Porter, Tadhg Beirne, Jack Conan, Luke McGrath, Jack Carty en Chris Farrell.

Skotland: Stuart Hogg, Tommy Seymour, Duncan Taylor, Sam Johnson, Sean Maitland, Finn Russell, Greig Laidlaw, Ryan Wilson, Hamish Watson, John Barclay, Jonny Gray, Grant Gilchrist, WP Nel, Stuart McInally (k) en Allan Dell. PLAASVERVANGERS: Fraser Brown, Gordon Reid, Simon Berghan, Scott Cummings, Blade Thomson, Ali Price, Chris Harris en Darcy Graham.

  • Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland).
  • Assistent-skeidsregters: Pascal Gaüzère (Frankryk) en Alexandre Ruiz (Frankryk).
  • TV-skeidsregter: Graham Hughes (Engeland).
  • Afskop: 09:30 (SS 1).