Die siepsop-braaiboud wat die Engelse Nieu-Seeland in die halfeindstryd gegee het, is toe presies wat hulle self gister in die eindstryd by die Bokke gekry het, sê Hennie le Roux.

Hennie le Roux
Hennie le Roux (regs).

“Alle eer aan Rassie. Hy het goed beplan en die span op ’n punt gekry waar hulle die Engelse heeltyd op die agtervoet kon hou en onkant gevang het op die aanval,” het Le Roux, een van die helde van 1995 se Wêreldbeker, gesê.

“Ons voorspelers het ’n ongelooflike platform vir (die losskakel) Handré Pollard geskep. Hul fisiekheid het die span daardie ekstra halwe sekonde gegee om beter taktiese skoppe uit te voer, of die verdedigingslyn reg te kry.

“(Die verskil tussen) ons wedstrydplan gister en ons wedstrydplan teen Wallis wys net weer eens hoe baie in sewe dae op die oefenveld kan verander.

“Ons het die skroewe teen die Engelse gaan indraai en ons groot skrums vroeg in die wedstryd het veroorsaak dat die momentum vroeg reeds aan ons kant was. Engeland was eintlik nooit in hierdie wedstryd nie.” – Dawie Boonzaaier