Josh Navidi, losvoorspeler van Wallis, se deelname aan die Wêreldbeker-toernooi is weens ’n dyspierbesering iets van die verlede.

Hy het die besering Sondag in die eerste helfte van Wallis se kwarteindstryd teen Frankryk opgedoen en sy afrigter, Warren Gatland, het Maandag bevestig hy sal nie teen die Springbokke kan speel nie.

Gatland het gesê Navidi sal deur ’n agterspeler vervang word, gegewe die beserings waarmee die Drake in die middelveld sukkel.

Die senter Jonathan Davies kon nie teen die Franse speel nie, terwyl Hadleigh Parkes met ’n gebreekte beentjie in sy hand teen die Hane gespeel het.

Gatland het aangedui daar moet “deur ’n Wêreldrugby-proses gegaan word” voordat ’n plaasvervanger ontbied kan word.

“Ons het ses losvoorspelers, waarvan vyf fiks en beskikbaar is, maar ons is in die stadium ’n bietjie dun in die agterlyn.

“Dit is ’n groot teleurstelling vir Josh, veral omdat hy die laaste 12 maande so invloedryk vir ons was. Hy sal minstens twee weke nie kan speel nie en die plan is dat hy by ons aanbly.

“Dit beteken hy verloor sy akkreditasie, maar gegewe hoe ver ons in die toernooi gevorder het, sal dit lekker wees om hom die laaste twee weke by ons te hê.”

Die aanduiding is wel dat Davies en Parkes oorweeg sal word om die Bokke aan te vat in die halfeindronde.

“Hy (Davies) het die naweek amper gespeel en môre (Dinsdag) se oefening sal ’n ligte een wees.

“Ons wou nie Sondag met twee senters gespeel het waarvan nie een 100% was nie.”

Parkes was, afgesien van sy gebreekte hand, ook met ’n gekneusde skouer op sy pos.

“Dit was belangrik dat een van ons senters sonder ’n skeet gespeel het. Ons behoort die komende naweek in ’n beter posisie te wees.” – Reuters