TJ Perenara, bekend vir sy ondersteuning van die reënboog-gemeenskap, hoop die Nieu-Seelandse rugbypubliek is gereed vir ’n gay All Black.

Stuff berig die Hurricanes-skrumskakel sê in ’n onderhoud met die LGBT (lesbies, gay, biseksueel en transgender)-tydskrif Express hy en sy All Black-spanmaats omarm diversiteit.

Daar was nog nie ’n openlik-gay verteenwoordiger van Nieu-Seeland se nasionale rugbyspan nie, maar Perenara sê hy verwelkom enigiemand wat streef om deel van die All Blacks te word en glo die span deel sy inklusiewe ingesteldheid.

“Ons werk is om te verseker dat mense van alle gemeenskappe gemaklik genoeg voel om te streef om ’n All Black te word,” sê hy.

“So ek dink as enigiemand van die LGBT-gemeenskap ’n All Black word, hulle aanvaarding en ondersteuning in die omgewing sal beleef.”

TJ Perenara lei die haka teen die Bokke. Foto: Getty Images

Perenara (27) is ’n groot voorstaander vir inklusiwiteit in rugby. Hy is ’n skenker en ondersteuner van LGBT-sportliefdadigheid en het verlede jaar reënboog-skoenveters gedra in wedstryde vir die Hurricanes.

Hy het hom ook in die openbaar uitgelaat oor Israel Folau se boodskap op sosiale media dat onder andere gays hel toe gaan as hulle nie tot bekering kom nie.

Perenara het Folau se sienswyse gekritiseer as iets wat hy nie “in die spel wat ek liefhet” wou sien nie.

“Daar is geen regverdiging vir sulke skadelike uitlatings nie,” het hy destyds gesê. “Jy is perfek nes jy is, moenie dat sulke kommentaar jou verhoed om jouself te wees nie.”

Perenara voel die All Blacks moet deur voorbeeld lei en dit is waarom hy die LGBT-gemeenskap ondersteun.

“Daar is verskeie LGBT-organisasies en spanne vir enigiemand wat op soek is na ’n veilige, inklusiewe omgewing om in rugby te speel,” sê hy.

Perenara was op die plaasvervangersbank in die All Blacks se openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi teen die Bokke, maar is in die beginspan ingesluit vir Woensdag se kragmeting teen Kanada.

– Sportredaksie