Tifoon Hagibis het ’n hele paar spanne se kaarte deurmekaar gekrap voor die laaste naweek se groepwedstryde in die Wêreldbeker-toernooi.

Wêreldrugby en die toernooi-organiseerders het Donderdag aangekondig dat twee wedstryde wat Saterdag beslis sou word, gekanselleer is weens die dreigende tifoon.

Die kragmeting in Groep B tussen die All Blacks en Italië, sowel as die Groep C-wedstryd tussen Engeland en Frankryk is weens veiligheidsredes afgestel.

Dié tropiese storm, wat die ergste die afgelope paar jaar in Japan kan wees, kan na verwagting Saterdag groot ontwrigting en skade in die Tokio-omgewing, Jokohama en (die stad) Toyota veroorsaak.

Tifoon Hagibis kruip al hoe nader aan Japan en gaan na verwagting Saterdag groot skade in die Tokio-omgewing aanrig. Foto: AP

Ingevolge die toernooi se reëls word wedstryde wat nie beslis kan word nie, gekanselleer en as ’n 0-0-gelykopuitslag aangeteken.

Elke span – Nieu-Seeland, Italië, Engeland en Frankryk – kry twee ligapunte in hul onderskeie groepe.

Dit beteken die Italianers word ontneem van die kans om met ’n onwaarskynlike oorwinning oor die All Blacks verder as die groepfase te vorder.

Nieu-Seeland (16 ligapunte) en Suid-Afrika (15) is die twee boonste spanne in Groep B, terwyl Italië op 12 punte eindig.

In die Springbok-kamp sal daar nou angstig gewag word om te sien wie die span se teenstander in die kwarteindronde sal wees.

Dit kan Japan (14), Ierland (11) of Skotland (10) wees.

Alan Gilpin, direkteur van die Wêreldbeker-toernooi, staan Donderdag die media te woord oor tifoon Hagibis. Foto: Getty Images

Ierland speel Saterdag in Foekoeoka teen Samoa, terwyl daar Sondag besluit sal word of dit veilig is vir Japan en Skotland se lotsbepalende wedstryd in Jokohama.

Sou dié kragmeting ook afgelas word, sal Japan in die eerste plek in Groep A eindig. As die Iere Saterdag met Samoa afreken, sal dit beteken dat Skotland uit die toernooi geskakel word.

Engeland en Frankryk het reeds hul plekke in die kwarteindronde bespreek.

Eddie Jones se span het bo-aan Groep C se puntelys geëindig, wat beteken dat Engeland in alle waarskynlikheid volgende naweek teen die Wallabies sal uitspeel.

Frankryk en Wallis behoort in die ander kwarteindstryd aan te tree.

Alan Gilpin, die toernooi-direkteur, het gesê dit is ’n “komplekse en dinamiese situasie”, wat noukeurig in samewerking met hul weerkenners gemonitor word.

“Hoewel ons alles moontlik doen om ’n gebeurlikheidsplan in plek te kry vir al Saterdag se wedstryde, sou dit erg onverantwoordelik gewees het om spanne, ondersteuners, vrywilligers en ander toernooipersoneel bloot te stel aan wat ’n magtige tifoon kan wees.

“Ons het ten volle begrip dat ondersteuners van Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Italië teleurgesteld sal wees, maar hul veiligheid kom altyd eerste.”

Conor O’Shea, Italië se afrigter, sê hy vind die nuus moeilik om te verwerk.

“Ek het die spelers se reaksie ná ons oefening gesien. Dit is aaklig. Hierdie ouens het hul lewe vir Italiaanse rugby gegee, net sodat hul toernooi op die oefenveld tot ’n einde kom.

“Dit is ’n harde en moeilike dag vir ons almal en moeilik om dit in woorde te beskryf. Die ander spanne wie se wedstryde gekanselleer is, het reeds deurgedring.”

Sergio Parisse, Italië se kaptein, het nie doekies omgedraai oor die omstrede besluit nie en gesê as dit Nieu-Seeland was wat nog vier of vyf ligapunte gekort het, sou die wedstryd voortgegaan het.

Skotland het in ’n verklaring gesê hy is gereed en buigbaar om toe te sien dat Sondag se wedstryd teen die gasheer gespeel kan word.

“Ons verwag dat daar gebeurlikheidsplanne sal wees, sodat Skotland die kans sal hê om vir die kwarteindronde te kwalifiseer. Ons is voorbereid om by enige plan in te val.”

Gilpin het in reaksie op kritiek oor hul besluit gesê al 20 spanne was vooraf bewus van die toernooi se kansellasie-beleid.

“Al die spanne het ’n deelname-ooreenkoms onderteken en is bewus van die toernooi se reëls.

“Ons het altyd geweet daar kan ’n risiko wees, maar tog is ’n tifoon van dié omvang seldsaam dié tyd van die jaar.”

Bronne: Reuters, rugbyworldcup.com, sun-sentinel.com