Gee die meeste van jou voorkeurspelers ruskans teen Kanada, maar moenie risiko’s teen Italië loop nie.

Dís wat die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, uit Donderdag se Groep B-Wêreldbeker-wedstryd in Foekoeoka kon wys word. Die Italianers het met 48-7 gewen nadat hulle met rustyd met 17-0 voor was.

Braam Steyn, Italië se Suid-Afrikaans gebore agtsteman, was voor in die koor onder die Azzurri se uitblinkers. Hy het die eerste van Italië se sewe drieë afgerond.

Italië het die wedstryd baie goed begin en die Kanadese het baie swak teen dié aanslag verdedig. Die swak lakwerk was deurgaans ’n tema van dié wedstryd, met Kanada wat slegs 71% van sy duikslae suksesvol uitgevoer het. Dis ’n resep vir ’n drag slae.

Kanada was ná die eerste kwartier al met 0-17 agter, maar het vir die res van die eerste helfte goed terugbaklei. Hulle kon egter nie ’n handvol geleenthede in punte omskep nie. Die bal is selfs vlak voor die pale aangeslaan.

Behalwe vir die 39 verbroude duikslae, het dit ook nie met die Kanadese in die lynstane goed gegaan nie. Hulle het vier ingooie afgestaan, terwyl Italië in daardie afdeling vlekloos was.

Op die aanval was die Azzurri ook baie meer effektief. Hulle het 39 verdedigers geklop en 12 keer ’n bres geslaan. Italië se syfers in daardie afdeling was onderskeidelik 15 en 7.

Kanada se troosdrie was darem sag op die oog met die blits Andrew Cole wat puik afgerond het.

Italië het egter in die tweede helfte die dolk diep ingedruk.

Daar is ’n paar gevaarmanne in die Italiaanse span om van kennis te neem. Steyn en veral die flank Jake Polledri het gewoel, terwyl die heelagter, Mattei Minozzi, ook met die bal in die hand uitgeblink het.

* Puntemakers:

Italië 48 (17): Drieë: Braam Steyn, Dean Budd. Sebastian Negri, strafdrie, Mattia Bellini, Federico Zani, Matteo Minozzi. Doelskoppe: Tommaso Alan (3), Carlo Canna. Strafdoel: Alan.

Kanada 7 (0): Drie: Andrew Coe. Doelskop: Peter Nelson.