Die Springbokke se 2019-seisoen sal natuurlik bo alles onthou word vir die verowering van die Webb Ellis-trofee in Japan.

Hoewel die span van Siya Kolisi in sy openingswedstryd teen die All Blacks verloor het, was die Springbokke daarna onstuitbaar onderweg eindstryd toe. Dié nederlaag teen die Kiwi’s was die enigste keer dat Suid-Afrika vanjaar in 12 toetse aan die verloorkant was.

Die Springbokke het die Rugbykampioenskap teen die Poemas in Salta beklink. Foto: Getty Images

Die Bokke het in die proses vir die eerste keer sedert 2009 (toe nog die Drienasies) die Rugbykampioenskap gewen. Rassie Erasmus, die Bok-hoofafrigter en sy breintrust, het die grondslag van hul Wêreldbeker-glorie reeds in dié kompetisie gelê, veral met die wyse waarop daar beplan is.

Dit was ’n voordeel vir Erasmus-hulle om met uitgeruste spelers, selfvertroue en momentum in Japan aan te kom.

Die Springbokke het drie puik vertonings in die verkorte Rugbykampioenskap gelewer.

Rassie Erasmus se beplanning was deurslaggewend in die droomseisoen wat sy span in 2019 gehad het. Foto: Getty Images

In die eerste toets – teen die Wallabies op Ellispark – het Erasmus gewaag met ’n naasbeste span en talle onbeproefde kombinasies. Erasmus het verras toe hy die groentjie van die Stormers Herschel Jantjies saam met Faf de Klerk en Cobus Reinach as sy skrumskakels gekies het.

Die veteraan Frans Steyn was terug in die groep en so ook die losvoorspeler Marcell Coetzee, wat in 2015 laas ’n toets gespeel het. Erasmus het voorts die oud-Stormer Rynhardt Elstadt, wat vir Toulouse speel, uit Frankryk ontbied.

Die Springbokke het korte mette van die Aussies gemaak en het maklik met 35-17 geseëvier.

Erasmus het agterna gesê hy het geweet dit was ’n waagstuk om die veldtog met ’n saamgeflanste span te begin, maar hy kon nie vir beter gevra het nie.

Jantjies het sy debuut met twee skitterdrieë gevier en Reinach was self vol rugby toe hy in die tweede helfte opgestuur is. Die slot Lood de Jager het boonop gewys hy is na aan sy beste nadat ’n langtermynbesering hom uit die grootste deel van die Superreeks gehou het.

’n Groot groep Springbokke het die wedstryd uit Nieu-Seeland gekyk nadat hulle ’n goeie tien dae voor die toets teen die All Blacks in Wellington daarheen gevlieg het. Om te dink jy kan die een naweek in Suid-Afrika speel en met dieselfde span Nieu-Seeland toe vlieg om die wêreldkampioen ’n week later in sy agterplaas aan te vat, is wensdenkery, het Erasmus gesê.

Pieter-Steph du Toit is byderhand om Jantjies met sy belangrike drie teen die All Blacks in Wellington geluk te wens. Foto: Getty Images

Net drie spelers wat teen die Wallabies begin het – Makazole Mapimpi, Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit – was in die opdrafspan teen die All Blacks.

’n Nuwe ster op die horison. Herschel Jantjies op pad doellyn toe vir een van sy twee drieë teen die Wallabies in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Die besoekers, onder aanvoering van Duane Vermeulen (in Kolisi se afwesigheid), het die Kiwi’s aanvanklik onder druk gehad, maar het ná rustyd die inisiatief prysgegee.

Herschel Jantjies het egter gewys hy is ’n man vir die groot oomblik toe hy in die 79ste minuut ’n hangskoppie van Cheslin Kolbe met die tweede probeerslag bemeester en oorgeduik het om die telling 14-16 te maak. Handré Pollard het – soos hy ook in die Bokke se WB-veldtog gedoen het – kopgehou en ’n uitdagende doelskop deur die pale gejaag om die spanne gelykop te laat eindig (16-16).

Weer kon Erasmus nie vir meer gevra het nie.

Kwagga Smith het ’n tweede kans in die beginspan gekry en het gewys hy is Kolisi se opvolger, sou die kaptein nie betyds van sy kniebesering herstel nie.

Die Springbokke het in Nieu-Seeland agtergebly vir ’n paar dae se spanbou voordat hulle op die vliegtuig geklim het Buenos Aires toe.

Argentinië het in Salta tussen die besoekers en die Rugbykampioenskapstitel gestaan. Die Bokke het die vorige jaar met 19-32 in Mendoza tweede gekom, maar Vermeulen-hulle het dié keer hul beste vir Salta gelos.

Hulle het die Poemas voos geskrum en vyf keer gaan druk in ’n sege van 46-13. Pollard se persoonlike bydrae was 31 punte.

Daar was ná afloop van die kampioenskap groot diepte in die groep. Tendai Mtawarira, Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane het byvoorbeeld ’n kragvertoning teen die Poemas gelewer, nadat Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe in die vorige toets indruk teen die All Blacks gemaak het.

Die Rugbykampioenskapstriomf was geen vloekskoot nie.

Suid-Afrika was weer die Suidelike Halfrond se kampioenspan en die tafel was gedek vir groter dinge in Japan.