Springbokondersteuners het Donderdag by die Uniegebou saamgedrom vir die begin van die Bokke se oorwinningsparade.

Die span het vandeesweek met die Webb Ellis-beker uit Japan teruggekeer en jonk en oud het die Wêreldbeker-wenners in Pretoria verwelkom.

Die Springbokke en Siya Kolisi, hul kaptein, wys vir die skare die Webb Ellis-beker. Foto: Deaan Vivier
Ondersteuners by die Uniegebou was oorstelp van vreugde toe Siya Kolisi, Springbokkaptein, die Webb Ellis-beker omhoog hou. Foto: Deaan Vivier
Die skare by die Uniegebou was kleurvol uitgevat en het met wapperende landsvlae die Springbokspan verwelkom. Die Bokke se oorwinningstoer het Donderdag in Pretoria begin. Foto: Deaan Vivier

Onder die skare was heelwat kinders wat nie hierdie geskiedkundige geleentheid wou misloop nie.

Charlie Higgins (8), Lianey (8) en Ava Dunhin (5), van die Laerskool Garsfontein in Pretoria, het darem ’n reëling met die skool.

“Ons gaan net ’n bietjie laat wees. As ons die Springbokke gesien het, gaan ons dadelik terug skool toe,” het die drietjies vinnig gesê.

“In elk geval,” het Lianey laat hoor, “skryf die groot kinders nou toets en ons gelukkig nie”.

Lawrence Viviers, ook van Pretoria, sê hy werk gelukkig aandskof.

“Dit is geskiedenis dié, en ek is trots om deel daarvan te kan wees,” het Viviers gesê.

Landsvlae wapper voor die Uniegebou terwyl die seëvierende Springbokspan vir die skare waai. Foto: Deaan Vivier

Hy was deel van ’n skare mense – uitgevat in die Groen-en-goud – wat met wapperende vlae die Springbokke in hul groen bus luid toegejuig het.

Siya Kolisi en sy span het net so lekker vir die skare gewaai en selfies saam met hulle geneem.

Die skare het saam met pres. Cyril Ramaphosa, wat die Bokke by die Uniegebou verwelkom het, gegiggel toe hy bieg hy het die eerste drie van die eindstryd misgeloop omdat hy moes badkamer toe weens die senuwees.

Ramaphosa het gesê hy is trots op die span en dat Suid-Afrika net nie weer 12 jaar moet wag voordat ons die Wêreldbeker wen nie.

Ná ’n groepfoto saam met die president het die Bokke al dansend na die bus geloop en na Loftus Versfeld vertrek.

Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, skud pres. Cyril Ramaphosa se hand. Foto: Deaan Vivier
Siya Kolisi, pres. Cyril Ramaphosa en die Bokbreier, Rassie Erasmus, wys die beker vir die skare by die Uniegebou. Foto: Deaan Vivier

Hier het “Buff de Klerk” in sy eie Faf-broekie vir Faf de Klerk en die span laat skater.

Buff, oftewel Quintin Janse van Rensburg van Pretoria, sê De Klerk is sy held.

“Ek wil net vir die Bokke dankie sê dat die land danksy hulle vandag as ’n eenheid saamstaan. Baie, baie dankie,” het Janse van Rensburg gesê.

Stringe leerlinge van die Afrikaanse Hoër Meisieskool en die Afrikaanse Hoër Seunskool het uit hul klaskamers gestroom toe die Bokke se bus verby die jillende massa mense gery het.

Die straat voor Loftus Versfeld. Leerlinge van die Afrikaanse Hoër Seunskool asook die Afrikaanse Hoër Meisieskool het uit hul klaskamers gestorm om die bus te sien. Foto: Deaan Vivier

Franco Mostert, Duane Vermeulen en Siya Kolisi sit op die dak van die groen bus met die wêreldbeker. Foto: Deaan Vivier

Nog ’n groter skare het in die middestad op die Bokke gewag.

Naby Kerkplein het die skare mal gegaan en uit hul kantore gestorm of by vensters uitgehang om vir die Springbokke te waai.

In die middestad van Pretoria het mense voor die Bokke se bus gedans. Foto: Deaan Vivier

Die bus het vinnig voor Tshwane-huis stilgehou sodat die Bokke ondersteuners kon groet voordat hulle vir die res van die toer Johannesburg toe is. ’n Paar gelukkige ondersteuners kon vinnig ’n handtekening by Kolisi kry.

“Ons is lief vir julle, Bokke,” het die skare die spelers gegroet terwyl hulle ’n entjie agter die bus aangehardloop het.