Japan het Sondag in Jokohama ’n groot waarskuwing aan die Springbokke gerig met hul Wêreldbeker-oorwinning van 28-21 oor Skotland, maar het dalk terselfdertyd die Suid-Afrikaners ’n makliker pad na die eindstryd van rugby se skouspel gegee.

Danksy Japan se sege kom die All Blacks nou Saterdag 19 Oktober om 12:15 (SA tyd) in Tokio teen Ierland in een van die vier kwarteindstryde te staan, terwyl die Bokke en die gasheerland Sondag 20 Okt. om 12:15 SA tyd) in dieselfde stad in nog een slaags is.

Die Iere, wat Nieu-Seeland twee keer uit hul laaste drie kragmetings geklop het, is nie ál hoë hekkie wat op die Kiwi’s wag nie.

Engeland en die Wallabies is ook in die All Blacks se afdeling van die trekking. Húl kwarteindstryd vind Saterdag 19 Okt. om 09:15 (SA tyd) in Oita plaas.

Japan se sege Sondag het ’n mens onwillekeurig daaraan herinner hoe die kaarte in 2007 se Wêreldbekertoernooi vir Jake White se span reggeval het.

Die Bokke sal nie nou in praatjies van ’n moontlike pad na die eindstryd belang stel nie, aangesien hul aandag net op die toets teen Japan gerig sal wees.

Slaag hulle daarin om Japan voor hul fanatiese skare te klop, sal hulle in ’n moontlike halfeindstryd teen die wenner van Sondag se ander kwarteindstryd tussen Frankryk en Wallis te staan kom.

Dié kwarteindwedstryd vind op 20 Oktober om 09:15 (SA tyd) in Oita plaas.

Japan se sege Sondag het ’n mens onwillekeurig daaraan herinner hoe die kaarte in 2007 se Wêreldbekertoernooi vir Jake White se span reggeval het.

Frankryk het die Bokke toe ’n guns bewys deur die All Blacks op verrassende wyse met 20-18 in ’n kwarteindstryd in Cardiff uit te skakel.

Die Franse het daarna in die halfeindronde met 9-14 teen Engeland in Saint-Denis vasgeval.

Die Bokke het Fidji met 37-20 in 2007 se een kwarteindstryd geklop, waarna hulle met 37-13 oor Argentinië in die halfeindronde baas was.

tifoon
’n Woonbuurt in Nagano in Sentraal-Japan is onder water nadat die Tsjikoema-rivier sy walle oorstroom het. Foto: ap

Die Bokke het ’n ervare Engelse span met 15-6 in 2007 se Wêreldbeker-eindstryd geklop.

Die Bokke sal Japan egter nie in die kwarteindstryd onderskat nie, al het hulle die gasheerland net voor die toernooi met 41-7 in ’n oefenwedstryd geklop.

Lees ook: Minstens 23 dood nadat tifoon Japan tref

Talle van die spelers in Rassie Erasmus se groep was ook in 2015 se Wêreldbeker-groepwedstryd in Brighton betrokke toe Suid-Afrika die Japanners onderskat het en met 32-34 geskok is.

Japan het in Jokohama die beste balhanteringvertoning tot dusver deur enige span in vanjaar se toernooi gelewer.

Dit, hul vernuf in die moeilike speeltoestande, is wat hulle ’n gevaarlike teenstander maak.

Bygesê, Skotland het die Bokke presies gewys hoe om nié teen Japan te speel nie.

Die Skotte wil onder Gregor Townsend bekend staan as die toetsspan wat die aanvallendste rugby speel.

Ongelukkig vir Townsend-hulle is die bal so glad soos ’n koekie seep in die humiditeit.

Skotland se wedstrydplan was daarom nooit geskik vir die speeltoestande in Japan nie.

In Tokio sal Suid-Afrika op tradisionele Bok-rugby moet staatmaak as hulle verder as die kwarteindronde wil vorder.

Baie sal van Faf de Klerk, Handré Pollard en Willie le Roux se skopwerk afhang as die Bokke die tuisspan in ’n wurggreep wil beetkry en hul batterye met dryfmaalbewegings wil pap maak.

Jamie Joseph, afrigter van Japan, sal op sy beurt bekommerd wees dat sy span dalk nou reeds hul finaal gespeel het. Dis ’n hengse prestasie vir Japan om tot die uitkloprondes deur te dring.

Die Japanners kry ook nie lang herstelkans nie en hul lywe kan Sondag nog seer wees.

Teenoor hulle het die meeste Bokke se sogenaamde A-span voorverlede Vrydag laas teen Italië in Sjizoeoka gespeel.

Joseph weet wel dat sy span in die onlangse oefenwedstryd ’n paar keer die Bokke se opskietverdediging kon klop. Met ’n tikkie beter afronding kan Japan die Bokke onder groot druk in Tokio plaas en selfs verras.

Michael Leitch, kaptein van Japan, het sy span se oorwinning Sondag opgedra aan almal wat deur tifoon Hagibis getref is.

“Dis tans ’n moeilike tyd met die tifoon,” het hy gesê.

“Die skare was vanaand massief. Vandag was meer as ’n wedstryd vir ons. Daar was sprake dat die wedstryd nie sou plaasvind nie. Ek wil almal bedank wat dit moontlik gemaak het dat die toets kon plaasvind.

“Ons harte gaan uit na almal wat ná die tifoon swaarkry.

“Ek is ongelooflik trots op die span. Ons het van meet af aan met ons harte gespeel.

“Vandag was niks oor vaardighede nie. Dit was als oor emosie en fisiekheid. Dis wat ons gewys het.

“Ons verteenwoordig Asië. Ons verteenwoordig Japan. So, ons gaan alles oor die volgende paar weke gee.”