Japan se beginspan-agttal het die week teen tien voorspelers op die oefenveld geskrum om hulle vir Sondag se skrumstryd teen die Springbokke voor te berei.

“Hulle is geneig om ’n groter pak te hê in vergelyking met Japan s’n,” sê Takuya Kitade, plaasvervanger-haker van Japan.

“Dus om ons span nog harder te druk as tydens wedstryde, oefen ons (nie-beginspanlede) met tien teen die beginspan se agt,” het hy oor hul voorbereiding vir Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd in Tokio gesê.

Sy skrumafrigter, Shin Hasegawa, is nog soos ’n beer met ’n seer tand oor daardie twee drieë wat die Bokke van skrums in die spanne se Wêreldbeker-losmaker op 6 September in Koemagaja gedruk het.

Die Bokke het daardie wedstryd met 41-7 gewen.

“Dit (daardie twee drieë) het gewys wat gebeur as ons nie doen wat ons wil nie,” sê Hasegawa.

“Ons het sedertdien in vier wedstryde gespeel, maar was nog nie in een vir ’n volle 80 minute tevrede met ons skrums nie.

“Ons moet skrums hê wat hulle nie kans gee om ’n gaping uit te buit nie.”

Volgens Hasegawa het sy hoofafrigter, Jamie Joseph, hom versoek om groter verantwoordelikheid aan die spelers self te gee wat skrumwerk betref.

Japan se skrumafrigter, Shin Hasegawa. Foto: Getty Images

“Ek het gedink wat belangrik is, is hoeveel boodskappe ek aan die spelers kan oordra. Maar Jamie het gesê dat ek te perfeksionisties is, ek moet meer aan die spelers oorlaat.

“Nou kan die spelers self verstellings tydens wedstryde maak. Soms stuur ek ’n boodskap op, maar dan praat hulle al daarvan. So ons is in die regte rigting.”

Japan se Tongaanse slot, Uwe Helu, het die Bokke ook gewaarsku dat hulle lynstaanspel baie sedert die losmaker verbeter het.

“Ons sal ’n paar truuks hê en moet hulle moet vaart klop,” sê Helu.

“Julle sal dit Sondag agterkom.

“Hulle verskil van ander spanne. Hulle werk meer as ’n groep. Hulle kom in twee en drie as hulle aanval.

“Ons moet as ’n span aanval, en as ons verdedig, moet ons as groep aanpas en verdedig, afhangende van die nommers waarmee hulle kom.”

Japan sal onder minder druk as die Bokke in die kwarteindstryd wees, aangesien die gasheerland volgens Helu reeds hul doel in rugby se skouspel bereik het deur tot die uitkloprondes deur te dring.

“Niemand het verwag dat ons die topagt sal haal nie.

“Ons het al almal verkeerd bewys. Niemand sal selfs na ons kyk om hierdie wedstryd hierdie week te wen nie.

“Dit is dus nog ’n kans om mense verkeerd te bewys. Vir ons hou ons daarvan om alles vir ons ondersteuners te gee, wetende dat hulle ons altyd sal ondersteun.

“As jy iets wen en so iets laat gebeur, wil jy net aanhou.”

Reuters berig Japan het selfs ’n afrigter betrek om die spelers te help om onder druk die regte besluite te neem.

David Galbraith stel spelers in oefensessies bloot aan die stresvolle situasies wat hulle in wedstryde gaan teëkom.

“Hy ontwerp vasvra-kompetisies. Dis deel van oefening – om te fokus om ons brein onder druk en in moeilike situasies te gebruik,” het die haker Atushi Sakate onthul.

“Jy moet deur die loop van ’n wedstryd in die moeilikste situasies van wedstryde besluite kan neem.”