Ondanks ’n dreigende tifoon (Hagibis) en die kansellasie van twee Wêreldbeker-wedstryde wat dit sover tot gevolg gehad het, kry dié rugbyskouspel ’n stewige duim in die lug van verskeie plaaslike kenners.

Vrae word nou gevra oor Japan se geskiktheid as gasheernasie gegewe die wete dat daar ’n risiko van tifone tydens die toernooi sou wees, asook die warm, bedompige toestande, wat spel dikwels in die groepwedstryde nadelig geraak het.

Ray Mordt is egter een van ’n paar oud-Bok-vleuels wat meen Japan wás en is steeds die regte keuse as gasheer vir dié toernooi.

“Dit is ’n fantastiese toernooi wat uitstekend aangebied word,” sê hy.

Pieter Hendriks, ’n lid van die seëvierende Bokspan van 1995, meen die manier hoe dinge in Japan gedoen word, is wonderlik vir die groei van die spel.

Carel du Plessis. Foto: Gallo Images

Carel du Plessis, die Prins van vleuels en ook ’n voormalige Bok-breier, sê daar is ’n begeesterdheid rondom die toernooi wat aansteeklik is.

“Dit is fenomenaal om te sien hoe die toernooi aangebied word,” sê Du Plessis.

“Die weer is uiteraard ’n faktor en speel ’n rol, maar dit neem nie weg van hoe goed dit vir wêreldrugby is om die spel te ontwikkel en uit te brei in ’n land soos Japan nie,” sê hy.

Hennie le Roux, soos Hendriks deel van die ’95-groep, sê iets soos ’n tifoon kan nie beheer word nie.

“Ek is ook baie in my skik hoe Japan hierdie toernooi organiseer en watter belangstelling daar is vir die toernooi.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas wat tussen 2015 en 2017 die Brave Lupus in Japan afgerig het, sê hy het begrip vir kritiek wat nou teen Wêreldrugby uitgespreek word, maar glo dis onregverdig om nou te wil sê dat ’n land soos Suid-Afrika, wat destyds ook vir vanjaar se WB-toernooi gebie het, eerder die gasheer moes gewees het.

“Ek verstaan en hoor wat almal sê, maar ek stem nie noodwendig saam nie. Dis jammer dat spanne se planne beïnvloed word, maar dit is ongelukkig hoe die situasie hom uitspeel. Dit gaan oor die veiligheid van die toeskouers, die spelers en almal betrokke,” sê Stonehouse.

Dis jammer dat spanne se planne beïnvloed word, maar dit is ongelukkig hoe die situasie hom uitspeel. Dit gaan oor die veiligheid van die toeskouers, die spelers en almal betrokke.
Jimmy Stonehouse

Hyself was al ’n slagoffer van ’n tifoon, toe hy tydens ’n vakansie op die eiland Okinawa vir drie dae vasgekeer was.

Die gewese Junior Springbok-afrigter Dawie Theron, wat vir twee seisoene – 2016 tot 2017 – die Docomo Red Hurricanes in Osaka afgerig het, sê by hom bestaan daar geen twyfel dat Wêreldrugby die regte besluit geneem het nie.

“Daar is twee goed wat van Japan wat onthou moet word – daar is aardbewings en hulle word deur storms geteister. ’n Tifoon is eintlik ’n baie sterk storm en die Japannese is sensitief oor hul veiligheid.

“Ek het al ’n oefening weens ’n tifoon misgeloop en ’n wedstryd teen die Canon Eagles is tydens so ’n storm binnenshuis gespeel,” sê Theron.

“Japan het die infrastruktuur om die Wêreldbeker suksesvol te kan aanbied, so ek sien nie hoekom enige ander land oorweeg moes word nie.

“Alles (in die land) werk. Uit ondervinding voel ek dat Japan meer as goed genoeg is om die toernooi aan te bied.”

Le Roux en Hendrik glo wel dat die WB-organiseerders dalk meer kon gedoen het om ander reëlings te tref sodat die wedstryde tussen Frankryk en Engeland, asook Nieu-Seeland en Italië, steeds kon plaasvind.

“Daar kon dalk twee wedstryde op een dag in een van die binnenshuise stadions gespeel word,” het Le Roux voorgestel.

Die Jokohama-stadion kan moontlik beskadig word deur die tifoon Hagibis, wat Tokio na verwagting Saterdag gaan tref. Indien dít die geval is, kan Japan en Skotland se deurslaggewende groepwedstryd Sondag ook gekanselleer word. Dít sal beteken Japan kwalifiseer die eerste keer vir die kwarteindronde van ’n Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Hendriks glo weer daar kon dalk ’n alternatiewe dag of twee opsy geskuif geword sou die weer té groot ’n rol speel.

“Gelukkig het die wedstryde wat afgelas is nie ’n beduidende rol gespeel in die uiteindelike situasie nie. Ek hoop maar net regtig die kragmeting tussen Japan en Skotland (Sondag) kan voortgaan, want dit gaan ’n helse wedstryd wees en dit sal tragies wees as dit nie kan plaasvind nie,” sê hy.

“Die weer is buite mense se hande en as jy so daaraan dink, was ons halfeindstryd in 1995 teen die Franse in Durban ook eintlik soos ’n tifoon,” sê Hendriks.

Daardie wedstryd het destyds ’n uur laat begin, maar voor Donderdag se besluit deur Wêreldrugby is geen WB-wedstryde in die geskiedenis al gekanselleer nie.

Mordt reken dat alles wat hy nog van die Wêreldbeker gesien het is ongelooflik en “daar is nie eens wat my betref een persent wat negatief is nie.”

Hy glo ook die stryd tussen Japan en Skotland gaan van groot belang wees en dat hy styf duim vashou dit gaan voort.