Japan is nog nie klaar aan sy Wêreldbeker (WB)-sprokiesverhaal geskryf nie.

Michael Leitch, kaptein van die WB-gasheernasie, het voor Sondag se kwarteindstryd in Tokio die Springbok-rugbyspan gewaarsku en gesê hulle gaan aan die volgende hoofstuk skryf.

“Ons is nog nie tevrede nie,” het die kaptein van die Japanse span op Vrydag se nuuskonferensie by hul spanhotel gesê.

“Dit is nie die einde van die verhaal nie. Ons is nou een van die agt beste spanne in die toernooi. Ons kan baie selfvertroue daaruit put.”

Leitch het voor sowat 100 internasionale rugbyskrywers, fotograwe en kameramanne uitgebrei oor waarom hy glo die gasheerland ’n gelyke kans het om die Bokke weer – soos die geval in Brighton in 2015 se Wêreldbeker was – te rol.

“Ons sielkundige ingesteldheid is anders in vanjaar se Wêreldbeker. In 2015 het ons vir sowat 20 jaar nie ’n WB-wedstryd gewen nie. Dit was daarom ’n groot ding toe ons die Springbokke geklop het.”

Leitch sê hulle het vanjaar vir die uitkloprondes gemik.

“Ons benader nou toetse met die wete en selfgeloof dat ons kan wen as ons werklik ons werk reg doen. Ons sielkundige ingesteldheid is anders as in 2015, dis die verskil tussen nou en vier jaar gelede. Ons beskou elke wedstryd nou as ’n eindstryd, met ons doelpale wat geskuif het nadat ons tot die uitspeelrondes deurgedring het.”

Die gasheerland se selfvertroue het nie net danksy sy oorwinnings oor onder meer Ierland en Skotland in vanjaar se groepfases gegroei nie, maar ook toe hulle die week video-ontledings van die Bokke gedoen het.

“Suid-Afrika het na ’n redelik vreesaanjaende vooruitsig gelyk toe ons hom vroeër die week begin ontleed het,” sê Leitch.

“Maar hoe meer ons gepraat het oor ons eie prestasies en oor hoe ver ons as groep gevorder het, hoe meer het ons begin glo dat ons dit kan doen.

“Ons regtig opgewonde begin raak namate ons begin nadink het oor hoe om die Bokke af te breek. Daardie vrees het geleidelik vervaag en die vertroue het toegeneem.”

Die sege in Brighton het die wêreld volgens Leitch van Japanse rugby laat kennis neem.

“Daardie toets leef steeds in die herinneringe van Japannese aanhangers. Hierdie keer het ons die kans om hulle in lewende lywe te wys (hoe om met die Springbokke af te reken). Dit gaan meer oor hoeveel ons ons krag kan toon, eerder as wie die teenstander is,” sê Leitch.

“Dit is goed dat mense in Japan dit eerstehands kan sien.”

Leitch en sy afrigter, Jamie Joseph, het ook in Vrydag se nuuskonferensie breedvoerig gepraat oor hoe hulle die verwagtinge van die plaaslike ondersteuners én media die week moes bestuur.

Joseph beskou dit as ’n moeiliker taak as wat hy die week op die oefenveld gehad het aangesien sy spelers volgens hom dáár oorgeneem het.

Die heelagter Willie le Roux Vrydagaand (Japanse tyd) by die Springbokke se kapteinsoefening in die Tokio-stadion.Foto: Gallo Images

Die Bokke het juis gereeld die week verwys na die hoë verwagtinge wat die Japannese ondersteuners van hul span koester en die meegaande druk wat dit meebring. Die Bok-kamp het uit een mond gepraat dat die span wat die druk Sondag die beste verwerk, die kwarteindstryd sal wen.

Terwyl die mediakollig Vrydag op Japan geval en sy spelers met tye met emosie belaai was in die nuuskonferensie, waar hulle soos Hollywood-sterre deur tientalle fotograwe se flitsende kameras verwelkom is, het die Springbokke daarin geslaag om onder die radar te beweeg.

Die Bokke sal ook Saterdag laag lê. Hulle het hul spanfoto Saterdagaand eers om 21:15 met nie eens ’n handvol fotograwe wat daar verwag word nie vanweë die kwarteindstryd tussen die All Blacks en Ierland in Tokio.

Teenoor die Bokke, het Joseph-hulle straks die voetfout gemaak om Saterdag nog ’n sterk mediadag te hê. Hul kapteinsoefening is Saterdagoggend waar die skrywers, fotograwe en kameramanne toegelaat word. Hulle hou ná die oefening nog ’n nuuskonferensie, wat sal beteken dat hulle nie soos die Bok-kamp hulle volle aandag op Sondag se kwarteindstryd kan rig nie.