Japan se rugbyspan begin sy Wêreldbeker-veldtog Vrydag in Tokio met baie druk op sy skouers.

Aan die een kant is daar die verwagtinge van ’n land wat gretig is om sy stempel op die wêreldverhoog af te druk.

Dan is daar die wêreldliggaam (Wêreldrugby), wat wil toesien dat die gasheer ’n suksesvolle toernooi aanbied – die eerste WB-toernooi in Asië.

Die Japannese pak Rusland in hul eerste wedstryd.

Hulle word gelei deur Michael Leitch, wat die gesig van Japanse rugby geword het danksy sy inspirerende leierskap en puik vertonings.

Leitch het as 15-jarige van Nieu-Seeland na die noord-eiland Hokkaido verhuis en hy lei as’t ware ’n “verenigde nasies-span”, met ’n groot groep spelers wat oorsee gebore is, maar Japan as hul tuiste aangeneem het.

Sestien van Japan se groep van 31 spelers is buite Japan gebore, insluitende van Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Tonga en Suid-Korea.

Dit is ’n uiteenlopende groep wat help om Japan se tradisionele beeld as ’n homogene land af te breek.

Leitch self is van Nieu-Seelandse en Fidjiaanse afkoms en dat hy die gesig van Japanse rugby is, is ’n teken van veranderende tye in ’n land wat lank immigrasie teëgestaan het en afsydig was teenoor buitelanders.

Leitch is trots om so ’n uiteenlopende groep spelers te lei.

Japannese stap deur ’n moltreinstasie in Sapporo, Japan. Foto: Getty Images

“Ek is baie trots om die kaptein van die Japannese rugbyspan te wees. Ons het ’n uiteenlopende span, met ’n sterk buitelandse invloed,” sê Leitch.

Hy was een van sy land se helde in die geskiedkundige oorwinning oor Suid-Afrika in die vorige WB-toernooi in Engeland. Dié opskudding het gehelp om opvattings oor rugby in Japan te verander.

Deelname aan rugby, asook kykergetalle, het toegeneem en Japanse rugby is nou gretig om munt te slaan uit dié besonderse geleentheid om ’n blywende nalatenskap te skep.

Leitch wil voortbou op 2015 se oorwinning oor die Springbokke.

“Almal, ook Japannese, het verwag dat ons sou verloor.

“So toe ons Suid-Afrika klop, het 30 miljoen mense ons volgende wedstryd teen Skotland dopgehou.

“Al het ons toe verloor, het ons Japan geïnspireer. Nou, met ’n WB-toernooi op tuisbodem, het ons die kans om dit weer te doen,” sê Leitch.

Wêreldrugby het tien jaar gelede ’n groot risiko geneem om die skouspel aan Japan toe te ken – die eerste keer buite die sport se tradisionele tuistes.

Optimisme vier hoogty ná Japan se sukses verlede maand in die Pasifiese Nasiesbeker.

Rugbybase hoop ’n goeie vertoning teen Rusland sal die opwinding aanwakker en die geloof skep dat geskiedenis binne bereik is.

Japan se ander teenstanders in Groep A is Ierland, Skotland en Samoa.

Japan se ander teenstanders in Groep A is Ierland, Skotland en Samoa.

Rusland is intussen oorgehaal om sy eerste WB-oorwinning tot dusver te behaal.

Die Russe het in hul enigste vorige toernooi – in 2011 – al hul wedstryde verloor.

Hulle is net in Japan nadat Roemenië en Spanje gediskwalifiseer is omdat hulle spelers gekies het wat nie verkiesbaar was nie.

Rusland het sy laaste opwarmingswedstryd teen Italië met 15-85 verloor.

Japan het sy laaste slypstryd met 7-41 teen Suid-Afrika verloor.

* Talle spelers wat in Japan in aksie gaan wees, is nié in hul span se geboorteland gebore nie. Naas Japan, het Skotland die meeste “buitelandse” spelers, naamlik 14 in sy geledere.

Australië is nie ver agter nie met 12. Ander top-rugbylande soos Wallis (8), Engeland en Frankryk (albei 6), het ook ’n sterk buitelandse geur.

Anders as wat dalk vermoed word, het die All Blacks net vier spelers in hul groep wat nie in Nieu-Seeland gebore is nie. Hulle is Sevu Reece (Fidji), Nepo Laulala (Samoa), Ofa Tu’ungafasi (Tonga) en Shannon Frizell (Tonga).

Van al die toplande boer Suid-Afrika en Argentinië die meeste met hul eie kalwers. Beast Mtawarira (Zimbabwe) is die enigste Bok wat nie in Suid-Afrika gebore is nie, terwyl ál 31 Poemas van Argentinië is. 

– Reuters, Sportredaksie, Sport24.co.za

Groep A

Ierland


SKotland