Toe die Springbokke Japan vyf weke gelede in ’n Wêreldbeker-opwarmstryd met 41-7 oorrompel het, het ’n hele nasie ’n sug van verligting geslaak.

Die Spook van Brighton is begrawe, het Bok-ondersteuners gesê. Min het hulle besef dáárdie was nie die dag om die spook te vrees nie.

Die Brighton-paranoia moes eerder gehou word vir die Wêreldbeker-kwarteindronde.

Vier jaar nadat die grootsheid van die Wêreldbeker-toernooi Japan by die toernooi van 2015 in Engeland tot die onwaarskynlikste van oorwinnings oor Suid-Afrika besiel het, pak ’n selfs meer begeesterde groep Kersiebloeisels die Bokke Sondag die eerste keer in ’n alles-of-niks-kragmeting.

Daarvan het hulle seker gemaak deur Skotland Sondag in Jokohama met 28-21 uit te knikker. Dit het nie net die tuisspan onoorwonne in die WB-toernooi op hul tuisbodem gehou nie, maar ook die doodsklok vir Skotland gelui.

Dit was in dié wedstryd duidelik dat Japan se skoksege twee weke gelede oor Ierland geen vloekskoot was nie. Hierdie Japannese mag maar rugby speel. Hulle ken drukaangeë, hulle weet hoe om gapings te vind, hulle deins nie terug in die losgemale nie en is baie behendig daarmee om hul tuisskare as ’n 16de man te gebruik.

Dat die Bokke ’n hengse stryd ophande sal hê in aanstaande naweek se kwarteindstryd is Sondag bevestig. Japan het Skotland tot vroeg in die tweede helfte as’t ware van die veld gevee, met Kenki Fukuoka wat reeds in die 43ste minuut hul bonuspuntdrie gedruk het.

Die telling was toe 28-7 en dit het gelyk asof die Brave Blossoms ’n wegholsege sou behaal.

Rassie Erasmus-hulle sou verlig wees om te sien dat die Japannese nie vir die duur van die wedstryd met die ontsettende intensiteit van die eerste helfte kon speel nie. In die laaste halfuur het hulle die Skotte terug in die wedstryd gelaat, en het dit walgooi gekos om voor te bly.

Dit is merkwaardig om te dink Japan is nie vooraf veel van ’n kans gegee om die uitspeelronde te haal nie. Nou het hulle vier WB-oorwinnings agter hul naam – iets wat nie eens die Springbokke kan sê nie.

Japan se sege is deur die kaptein, Michael Leitch, opgedra aan diegene wat geraak is deur die tifoon Hagibis. Dié superstorm het net enkele ure voor hierdie kragmeting  die Tokio-omgewing getref en het die lewe van 23 mense geëis. Die wedstryd is so byna afgelas daaroor.

“Vanaand was ons op ‘n ander vlak,” het die afrigter, Jamie Joseph, geblom.

“In die verlede het Japan homself nie vertrou in hierdie groot oomblikke nie. Nou weet hulle wat dit verg om oor die wenstreep te kom.”

Met hierdie sege eindig Japan eerste in Groep A.

“Ek is ongelooflik trots,” het Leitch aan Reuters gesê.

“Ons het met ons harte gespeel. Dit was nie vandag oor vaardighede nie, maar oor emosie. Ons het die hele Asië verteenwoordig. Ons sal alles uithaal teen die Bokke.”

Die Skotse afrigter, Gregor Townsend, kon nie sy teleurstelling wegsteek nie, met sy span wat maar slegs die tweede keer nóg nie die uitspeelfase van ’n Wêreldbeker haal nie.

“Ons het hierheen gekom met hoë verwagtinge, maar gee krediet aan Japan. Hulle was net té goed en verdien hierdie sege.

Ons het met ons harte gespeel. Dit was nie vandag oor vaardighede nie, maar oor emosie.
Michael Leitch

“Ons het die laaste paar maande baie hard gewerk en dit is teleurstellend om nie die uitspeelfase te haal nie.”

Nadat Skotland die eerste drie van die wedstryd gedruk het, het Japan die oorhand gekry en 28 onbeantwoorde punte aangeteken.

“Dit is ’n teken van ’n goeie span dat hulle ons foute kon uitbuit en ons moes ook meer akkuraat gewees het in die laaste 20 minute. Ons het die kans gehad om te wen, maar dit nie benut nie,” het Townsend gesê.

Die Skotte se kaptein, Greig Laidlaw, meen sy span het twee sagte drieë weggegee en deurdat hulle met agt punte moes seëvier om die laaste agt te haal, voel hy dit was glad nie goed genoeg om 28 punte prys te gee nie.