Engeland se afrigter, Eddie Jones, delf diep in sy sak toertjies ter voorbereiding vir Saterdag se Wêreldbekereindstryd teen Suid-Afrika in Jokohama.

The Telegraph berig daardie sak toertjies bevat ’n blonde pruik en die Japannese skrumskakel Genki Okoshi, wat deur die loop van die toernooi gereeld ’n draai in die Rose se kamp gemaak het.

Sy nuutste taak was om die rol te vertolk van die Bok-skrumskakel Faf de Klerk, kompleet met ’n blonde pruik.

“Hy het ’n blonde pruik. Wel, dit was die gerugte gister,” sê die voormalige Wallaby-agterspeler Matt Giteau in ’n onderhoud met Fox Rugby.

“Dit skep vir hulle ’n prentjie, maar ook iets om oor te lag tussendeur die erns, die gewigtige aard van die eindstryd.

“Dit kan werklik goeie dinge doen wat Engeland se ingesteldheid betref.

“Jy gaan geen klip onaangeroer laat voor ’n Wêreldbekereindstryd nie.

“Genki help hulle uitstekend om voor te berei vir Faf de Klerk en die erns van die wedstryd. Hy help hulle om die gemoedere te kalmeer en die atmosfeer in die span gemaklik en gerus te maak.”

Giteau sê Okoshi is teruggebring nadat hy verlede week beïndruk het toe Jones hom gevra het om die rol van die All Black-skrumskakel Aaron Smith te vertolk.

“So Eddie het vir hom gesê: ‘Ek wil hê jy moet na Aaron Smith kyk, die wyse waarop hy speel, verdedig en kommunikeer. Bestudeer hom Sondag en besoek ons Maandag, ek wil hê jy moet soos hy lyk en alles doen wat jy kan sodat ons die beste voorbereiding kan kry.’ Hy het selfs gesê: ‘Ek wil hê jy moet jou hare soos Aaron Smith sny.’

“Hierdie ou Genki het toe inderdaad by die Engelse oefening opgedaag met sy hare kort geskeer om soos Aaron Smith te lyk. Ek weet nie of hy soos Smith geoefen het nie, maar hy het beslis die spelers goed voorberei.”

Jones gebruik sy goeie verbinding met die Japanse klub die Suntory Sungoliath om bykomende spelers vir oefeninge te betrek, iets wat ander spanne ook gedoen het.

Wallis se afrigter, Warren Gatland, het op die knoppie gedruk van sy seun Bryn, wat gekontrakteer is by die Highlanders, om saam met die Rooi Drake te oefen voor verlede week se halfeindstryd.

– Sportredaksie