Só bang is die All Blacks se afrigter, Steve Hansen, dat geel- of rooikaarte sy span in die uitspeelrondes van die Wêreldbeker-rugbytoernooi kan kelder, dat hy meer aandag in oefeninge aan sy span se tegniek tydens duikslae gaan gee.

Twee van Nieu-Seeland se stutte, Nepo Laulala en Ofa Tu’ungafasi, is Sondag met geelkaarte gestraf vir ongeoorloofde duikslae in die wedstryd teen Namibië.

Die skeidsregter in die kragmeting, Pascal Gauzere, het verkies om hulle slegs geelkaarte te wys, omdat die spelers van die Biltongboere in die betrokke duikslae “geval” het en dus nie regop was toe hulle getref is nie.

“Ons het gisteraand vir mekaar gesê dat die geelkaarte geregverdig was,” het Hansen Maandag gesê. "Maar die spel is besonder moeilik om met hierdie reëls te speel, wanneer spelers ‘val’ en jy hulle tref.”

Die spel is besonder moeilik om met hierdie reëls te speel, wanneer spelers ‘val’ en jy hulle tref.
Steve Hansen

Hy besef in ’n taai uitspeelwedstryd kan ’n geelkaart maklik die skaal in die guns van jou teenstander swaai.

“Ons weet almal wat die riglyne is en ons moet almal harder werk. Daar is geen punt daarin om daaroor (geelkaarte) te kerm nie, ’n mens moet dit aanvaar en aangaan.

“Daar sal tyd daarvoor (tegniek tydens duikslae) in oefeninge afgestaan word,” het Hansen gesê

Dit is duidelik dat skeidsregters streng is met die toepassing van die reëls wat duikslae by die skouspel in Japan betref.

So belangrik is dit vir die ringkoppe by Wêreldrugby dat hulle ná die eerste paar wedstryde by die WB in ’n ongewone stap skeidsregters gekritiseer het nadat verskeie ongeoorloofde duikslae ongestraf gelaat is.

Tomas Lavanini rank in ’n lynstaan tydens die Rugbykampioenskapstoets tussen die Bokke en die Argentyne Saterdag in Durban. Foto: Gallo Images

Sedertdien is drie spelers, die Amerikaner John Quill, die Argentyn Tomás Lavanini en Uruguay se Facundo Gattas, van die veld gestuur nadat hulle tydens duikslae kontak met teenstanders se kop gemaak het.

Laulala én Tuungafasi het op die veld aan die Namibiërs verskoning vir hul optrede gevra.

“Hulle is ongelukkig omdat hulle nie gesien wil word as spelers wat mense teen die kop wil tref nie. Niemand gaan uit (met die bedoeling) om dit te doen nie.

“Maar ons spel is baie vloeibaar. In ’n oomblik kan iets vinnig verander. Veral vir daardie groter ouens, wat langer tyd nodig het (om van rigting te verander),” het Hansen gesê. – Reuters