Die Springbokke sal te veel spierkrag vir Japan in die vaste fasette hê.

Jimmy Stonehouse en Pote Human, onderskeidelik afrigters van die Pumas en die Bulle, is dít eens met die oog op die Bokke se ontmoeting Sondag teen Japan in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi.

Albei afrigters het egter die grootste agting vir die gasheerland.

Stonehouse was van 2015 tot 2017 ’n hulpafrigter van Toshiba Brave Lupus in Japan, terwyl Human van 2008 tot 2010 die Ricoh Black Rams se voorspelers afgerig het.

Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, glo die Springbokke sal Japan voorlangs boelie.Foto: Getty Images

“Ek dink ons kan hulle voor vermorsel en veral in die tweede helfte.

“Ons is fisiek en groot in die agttal en as die Bokke hul foute kan beperk, sal Japan sukkel,” sê Stonehouse.

Dit beteken nie dit gaan ’n maklike toets wees nie, maan hy.

Die Pumas se breier en direkteur van rugby, Jimmy Stonehouse, sê die toeskouers in Tokio sal Sondag Japan se “16de speler” wees. Foto: Getty Images

“Die Bokke sal hulle moet vasvat by die afbreekpunte en beheer wat beheer kan word. Ons sal ook met groter akkuraatheid moet skop.

“Die laaste ding wat jy soek, is dat húlle die pas van die wedstryd bepaal.”

Human voorspel ook dat Suid-Afrika maklik kan wen as die Bokke die tuisspan onder druk plaas in die skrums en die lynstane.

“Ek dink net ons sal te sterk wees vir hulle en sal hul besit vertraag. Skotland het die naweek toegelaat dat hulle vinnig speel en die bal punte toe stuur.

“Almal weet hoe gevaarlik Japan kan wees en sy spelers se werketiek kry jy nêrens anders nie, maar ek glo Rassie-hulle sal ’n plan hê daarvoor.”

Stonehouse sê Japan is ’n trotse span en die Bokke kan nie die rol van die tuisskare in Tokio onderskat nie.

“Dit sal hul 16de speler wees. Nie dat ek verwag ons sal die fout maak nie, maar dit sal arrogant wees om te dink Japan is ’n ondergeskikte teenstander.

“Ons sal beter moet skop en ons besit behou wanneer ons in hul halfgebied kom. Ek verwag ook dat ons met elke lynstaan sal rolmaal om hulle verdedigers in te trek.

“Die Bokke het eintlik nog nie baie goeie of mooi rugby gespeel nie. Maar dit was tot dusver wenrugby.

“Ek dink hulle gaan moeilik byhou wanneer ons plaasvervangers in die tweede helfte opgestuur word.”

Human sê ondersteuners sal die volgende drie weke ’n ander Bok-span sien.

“Ons het ’n makliker pad na die eindstryd, indien daar so iets is. Die All Blacks gaan Ierland en (waarskynlik) Engeland moet klop, wat hulle behoorlik sal toets.”