Daar kan in die Wêreldbeker-kwarteindstryd tussen Suid-Afrika en die gasheer, Japan, net een wenner wees as na die kenners geluister word – die Springbokke.

’n Voormalige vleuel en afrigter van die Bokke, Carel du Plessis, sê sonder om sentimenteel te raak, glo hy die Bokke het hopeloos te veel skietgoed vir Japan.

“Die Bokke is baie fisiek en Japan sal nie kan bybly nie. Hulle sal wel baie planne hê, maar ons het te veel krag daar,” sê Du Plessis, ook bekend is as die Prins van Vleuels.

Hy sê in uitspeelwedstryde is kragspel en beproefde kombinasies ’n deurslaggewende faktor en dít is waar die Springbokke beter as Japan is.

En die ander kwarteindstryde?

“Engeland maak kruisies in die regte blokkies en is gebalanseerd, maar Australië gaan moerig en mededingend ook wees.

Nieu-Seeland gaan te sterk wees vir Ierland, wat nog nie oortuigend in die toernooi was nie.
Carel du Plessis

“Nieu-Seeland gaan te sterk wees vir Ierland, wat nog nie oortuigend in die toernooi was nie. Die wedstryd tussen Wallis en Frankryk is vir my ’n 50/50-een.

“Ons is so gewoond daaraan dat Frankryk op enige gegewe dag enige span kan klop, maar ek dink Wallis speel met baie selfvertroue,” sê Du Plessis.

Hy glo in al die wedstryde gaan die aanslag onder die voorspelers begin en hy glo ook die weer gaan ’n rol in die kwarteindstryde speel.

’n Voormalige Springbok-losskakel en senter, Franco Smith is dit ook eens dat die fisieke Bokke te veel skietgoed vir Japan sal hê.

“Ons moet Japan se besluitnemers onder druk plaas. Hulle is gevaarlik met die bal in die hand en moet nie beweegruimte gegun word nie,” sê Smith.

“Die wedstryd tussen Nieu-Seeland en Ierland gaan taaier wees as wat mense verwag. Ierland het die resep om die All Blacks te klop – hulle het dit al twee keer in die laaste drie probeerslae reggekry.

“Dít gesê, as die All Blacks hul huiswerk gedoen het, sal dit baie moeilik wees vir Ierland om hulle te klop,” sê Smith.

Hy sê Wallis gaan te sterk wees vir Frankryk, wat al in die groepfase swaargekry het.

Maar, al die spanne in die kwarteindstryde verdien om daar te wees.
Naka Drotské

Naka Drotské, een van die Bokke in die seëvierende Wêreldbeker-groep van 1995 en ’n voormalige afrigter van die Cheetahs, glo in Tokio kan Faf de Klerk se lugskoppe die Japannese op die agtervoet plaas, aangesien hulle swak onder hangskoppe is.

“Hy sal egter doeltreffende skoppe moet loods. Die Bokke gaan vir seker wen. Japan sal nie by ons fisieke voorspelers kan kers vashou nie. As ons vir 80 minute teen hulle dryf, skrum, en met ons voorspelers oor voordeellyn kom, sal die wal in die tweede helfte breek,” voorspel Drotské.

Hy glo ook die Bokke se opskiet-verdediging gaan Japan se aanvalspatroon ontwrig.

“Vir die ander kwarteindstryde voorspel ek dat Engeland teen Australië sal wen. Nieu-Seeland behoort ook nie ’n probleem te hê om Ierland te klop nie, hoewel ’n verrassing nie uitgesluit is nie.

“Wallis sal ook klaarspeel met Frankryk. Maar, al die spanne in die kwarteindstryde verdien om daar te wees.”

Drotské het ook ’n lansie vir die Japannese gebreek en gesê hulle bied ’n ongelooflike Wêreldbeker-toernooi aan en dat dit tot dusver ’n massiewe sukses is.