Jy kan nie soveel seisoene soos die Springbok-stut Tendai Mtawarira op die hoogste vlak speel as jy nie karakter het nie.

So sê ’n ander voormalige Springbok-loskopstut, Ollie le Roux.

Die 34-jarige Mtawarira, ’n Zimbabwiër van geboorte, het Woensdag aangekondig dat sy toetsloopbaan ná 117 toetse tot ’n einde gekom het. Dít nadat hy sy toetsbuiging meer as ’n dekade gelede, in 2008, gemaak het.

“Om so lank op so ’n hoë vlak te speel soos Beast, is ’n voorreg. Onthou oor daai lang loopbaan was daar vir seker baie hoogte- en laagtepunte. Hy het waarskynlik sy loopbaan afgesluit met sy beste spelpeil tot dusver,” sê die 46-jarige Le Roux, wat die Springbokke as voorryman in 54 toetse tussen 1994 en 2002 verteenwoordig het.

“Stutte kan nie wedstryde vir jou wen nie, maar hulle kan dit wel vir jou verloor. Jy kan nie soveel seisoene speel as jy nie karakter het nie.”

Engeland se Dan Cole (links) word Saterdag in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi deur Tendai Mtawarira (met sy rug na die kamera) stukkend geskrum. Foto: Getty Images

Mtawarira het inderdaad sy toetsloopbaan op ’n hoogtepunt afgesluit deur die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Japan saam met Suid-Afrika te wen.

Oor meer as ’n dekade het hy sy teenstanders meer gereeld as nie pap geskrum en hulle seker dikwels laat wonder waarom hulle rugby as ’n loopbaan gekies het. Vra maar die Engelsman Phil Vickery van die Britse en Ierse Leeus, wat in 2009 sy moses teen Mtawarira teëgekom het.

Hy het aanvanklik met ’n fiets gery. Gaan vertel dit vir vandag se jong laaities wat geborgde karre wil hê as hulle begin speel. Dit is die verskil, dat hy karakter het.
Ollie le Roux

En toe, in sy laaste toets die afgelope Saterdag in Jokohama, Japan, was dit nog ’n Engelsman, Dan Cole, wat sleg tweede teen Mtawarira gekom het.

Benewens die feit dat Mtawarira met die derde meeste toetse vir Suid-Afrika spog naas Victor Matfield (127) en Bryan Habana (124), was hy ook ’n kolos op plaaslike vlak. Sy 159 verskynings vir die Haaie in die Superrugby-reeks en drie Curriebeker-titels (2008, 2010 en 2013) saam met die KwaZulu-Natallers getuig hiervan.

Ollie le Roux in sy speeldae. Foto: Getty Images

Le Roux sê daar is baie spelers soos Steven Kitshoff wat die leemte kan vul wat met Mtawarira se uittrede gelaat is.

“En dit was die goeie ding, toe Kitshoff ingekom het, het hy Beast onder druk geplaas, wat weer veroorsaak het dat Beast nog beter rugby gespeel het,” sê hy.

“Dit is die betekenis daarvan as daar gesê word om die trui in ’n beter plek te los as wat jy dit gekry het.”

Le Roux erken dat ’n mens het ’n bietjie geluk ook nodig het, maar hy sê Beast het karakter en deursettingsvermoë. “Hy het aanvanklik met ’n fiets gery. Gaan vertel dit vir vandag se jong laaities wat geborgde karre wil hê as hulle begin speel. Dit is die verskil, dat hy karakter het,” sê hy.

“Ek het nog nooit gehoor dat iemand iets slegs van hom sê nie.”

* Mtawarira het die Haaie Donderdag ook vaarwel toegeroep. Hy sê die moontlikheid dat hy sy loopbaan in die buiteland kan voortsit, is nie uitgesluit nie. Hy sal aan die einde van die maand ná sy Barbarians-wedstryd ’n finale besluit neem.