Springbok-rugby het nou die kwotastelsel verbygesteek.

Aan die woord in die Moederstad Maandag was Cassiem Jabaar, ’n legende uit die destydse nierassige Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

Jabaar, ’n oudskrumskakel, word alom beskou as een van die beste spelers wat weens apartheid nooit op die grootste verhoog gesien was nie. Sy speeljare was van 1968-’78.

“Ek dink ons is nou verby die punt waar ons oor kwotaspelers praat. Sommige mense sit nog vas in die verlede, maar ek glo ons het dit verbygesteek,” het Jabaar buite Kaapstad se stadsaal, waar duisende mense saamgedrom het vir die Springbokke se oorwinningsparade, gesê.

Ek glo die Bok-span wat die WB-toernooi gewen het was op verdienste daar.

Twee gekleurde spelers – die vleuels Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe – was die Bokke se driedrukkers in die Wêreldbeker (WB)-eindstrydsege oor Engeland, terwyl die span in Siya Kolisi deur ’n swart kaptein aangevoer was.

“Ek glo die Bok-span wat die WB-toernooi gewen het was op verdienste daar. Ek dink nie daar was beter vleuels nie en ons kon ook nie enige ander voorry gekies het nie,” sê Jabaar, wie se uitlatings vir die Springbokke groot simboliese betekenis sal dra.

Hy glo wel dis belangrik dat Suid-Afrika nie weer soos ná die oorwinning van die WB-toernooi in 1995 die bus verpas om rugby te promoveer en maatskaplike samehorigheid te vestig nie.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir ons om die land vorentoe te neem. As ons nie op die regte tye ons geleenthede aangryp nie, gaan dieselfde as in 1995 met ons gebeur,” sê Jabaar.

“Baie mense in ons gemeenskap is steeds All Black-ondersteuners en ek baklei hard om hulle na die Suid-Afrikaanse kant toe te bring. Sover dit my aangaan is wat ons nou hier sien die Suid-Afrika wat ons soek. Ons moet dit vorentoe neem.”

Jabaar dink ’n diepgesetelde worsteling met raskwessies binne Suid-Afrikaners – wit, bruin en swart – was die rede dat die oorwinning in 1995 nie momentum kon gee nie.

“Nou werk ons met jonger mense. Hopelik kan ons dit na die volgende generasie toe oordra.”

Dis nóg ’n geleentheid om dinge reg te kry en ons moet dit net aangryp.

Jabaar sê daar was Maandag geen bitterheid in sy gemoed nie.

“Daar is net baie genot,” sê hy.

“Dis nóg ’n geleentheid om dinge reg te kry en ons moet dit net aangryp.”

Hy voel dis vir die pad vorentoe belangrik vir gekleurde spelers om in hul gemeenskappe te ontwikkel eerder as om na spogskole gestuur te word.

“Ons het skole wat dieselfde as Bishops, Rondebosch en daardie skole kan doen. Selfs al is ’n jong speler talentvol genoeg vir Bishops, is dit steeds moeilik, want hy woon in Mitchells Plain,” sê Jabaar.

“Waarom kan ons nie sentrums in hul gemeenskappe vestig en mense met kennis kry om hulle af te rig nie? Dit was een van die geleenthede wat ons destyds gemis het.”

Hy glo geleenthede moet geskep en benut word.

“Ons is altyd geneig om na die wit kant toe te gaan om vorentoe te beweeg. Ons moet jong spelers uit die townships binne die stelsel kry.”