Die Springbok-blits Cheslin Kolbe se besering is veel ernstiger as wat vermoed is.

Die vleuel S’bu Nkosi se teenwoordigheid op Woensdag se nuuskonferensie kan ’n aanduiding wees dat hy, en nie Kolbe nie, in Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama speel.

Mzwandile Stick het op die nuuskonferensie in Tokio nie met oortuiging geantwoord dat Kolbe betyds sal herstel nie.

“Hy het Dinsdag ons volle oefening misgeloop,” het Stick, een van die Bokke se hulpafrigters, gesê.

“Ons probeer hom bestuur en die beste moontlike kans gee om te herstel. Hopelik sal hy gereed vir die wedstryd wees.

“Tans is almal beskikbaar vir oorweging.”

Kolbe het die veld ná 71 minute en 47 sekondes teen Japan verlaat toe hy deur Frans Steyn vervang is. Hy het sy enkel laat in die groepwedstryd teen Italië die eerste keer beseer. Dis nie seker of hy teen Japan dieselfde besering vererger het nie en of dit ’n nuwe een is nie.

Sy besering sal ’n invloed op die Bokke se wedstrydplan hê sou hy wel onttrek.

Hy is een van die Bokke wat hangskoppe die beste kan bemeester en die agterspeler met die grootste X-faktor.

Sbu Nkosi het Woensdag die Springbokke se nuuskonferensie in Tokio bygewoon. Foto: Gallo Images

Dis ook waar dat Wallis een van die voorste spanne ter wêreld is wat lugspel betref, veral die heelagter Liam Williams is puik daarmee.

Afgesien van Kolbe se besering en die sterk moontlikheid dat Nkosi hom vervang, word dit betwyfel of Rassie Erasmus enige verdere veranderinge aan sy 23-tal sal maak.

Willie le Roux se ervaring van 59 toetse word skielik weens Kolbe se besering belangriker in ’n halfeindstryd as in ag geneem word dat Nkosi nog net in tien toetse gespeel het, Damian Willemse in ses en Warrick Gelant in nege betrokke was.

Makazole Mapimpi mag ’n drieëvraat wees, maar ook hy het maar nog net in 12 toetse gespeel, waarin hy al ’n indrukwekkende 13 drieë behaal het.

“As jy na Makazole se rekord vir die Southern Kings, Cheetahs en Haaie in Super-rugby en die Pro14-reeks kyk, is hy nog altyd een van die spelers wat die beste afrond,” het Stick oor Mapimpi gesê.

As jy na Makazole se rekord vir die Southern Kings, Cheetahs en Haaie in Super-rugby en die Pro14-reeks kyk, is hy nog altyd een van die spelers wat die beste afrond.
Mzwandile Stick

Erasmus sal na verwagting ook met sy bank van ses voorspelers en twee agterspelers volhard.

Die taktiek het sover vir die Bokke gewerk, hoewel dit verwag word dat Erasmus klein verstellings aan sy wedstrydplan sal maak om as ’n verrassingselement teen Wallis te dien.

Erasmus kondig sy 23-tal Donderdag aan.