Die Springbokke sal Sondag met ’n fyn uitgewerkte plan in Tokio opdaag om die Spook van Brighton vir goed te verjaag.

Wanneer jy só hard gewerk en voorberei het, móét jy daarvoor beloon word, sê die Bok-senter Jesse Kriel.

“Ek is vas oortuig Japan is die eerste hekkie in die pylvak op pad na die Wêreldbeker-eindstryd.

“Dit (die Springbok-groep) is ’n ongelooflike lekker omgewing om in te wees, want dit gee die spelers selfvertroue dat Rassie en die afrigtingspan so slim en deeglik voorberei vir elke toets.

Om in Suid-Afrika te moet sit en kyk hoe sy spanmaats in die kwarteindstryd teen Japan speel, is nie ’n aangename vooruitsig nie.

“Dit is baie sleg. ’n Ou werk so hard vir vier jaar om op jou beste te wees (by die WB-toernooi) en nog meer so vanjaar, omdat daar so baie beplanning gedoen is.

“Wat my die meeste frustreer, is dat dit nie ’n ernstige besering is nie en ek tans so by 80% trek met my rehabilitasie.

“Maar Rassie en die mediese span het my baie tyd gegee om te herstel en dit het uiteindelik nie so uitgewerk nie.

“Ek moet dit aanvaar, dit is deel van rugby.”

Ek weet daar sal geen mate van oorgerustheid by die ouens wees nie.

Kriel sê die Bokke sal nie in die strik trap om met vals selfvertroue in die Tokio-stadion aan te tree nadat hulle die tuisspan voor die aanvang van die toernooi maklik met 41-7 verslaan het in ’n opwarmstryd nie.

“Dit het natuurlik gehelp met ons opbou na die toernooi en om dit wat in 2015 gebeur het van ons skouers af te kry, maar Japan speel briljante rugby.

“Ek weet daar sal geen mate van oorgerustheid by die ouens wees nie.”

Kriel sê hy het begrip daarvoor dat ondersteuners nie in hulle skik is met die span se skopwerk nie.

Ek dink ’n groot deel van my teleurstelling met die besering is dat ek weet die span is in ’n goeie posisie om die beker huis toe te bring.

“Ons skop egter nie meer as die ander spanne nie. Dit gaan oor die uitvoering en dit is net so belangrik soos aanval en verdediging.

“Dit is ’n gegewe, in Wêreldbeker-uitkloprugby sal daar geskop word.”

“Dit is, volgens Kriel, “die Bokke se jaar”.

“Daar is soveel faktore wat ’n rol speel en jy het ook ’n bietjie geluk nodig.

“Ek dink ’n groot deel van my teleurstelling met die besering is dat ek weet die span is in ’n goeie posisie om die beker huis toe te bring.”