Hy sal nie sê Jeremy Guscott het suur druiwe nie, maar tog wonder Corné Krige of dié oud-Engelse senter dieselfde deuntjie oor plaasvervangers sou sing as Engeland die Springbokke in die Wêreldbeker (WB)-eindstryd opgekeil het.

Maar helaas, dit was Suid-Afrika se agttal en plaasvervanger-vories wat die Rose vertrap het onderweg na hul sege van 32-12. Na aanleiding van die skade wat deur die Bokke se “Bomb Squad” aangerig is – die plaasvervangersbank wat uit ses voorspelers en twee agterspelers bestaan het – het Guscott ’n pleidooi gelewer dat reserwereëls aangepas moet word. Spanne moet slegs drie plaasvervangers kan gebruik, maan Guscott.

Die Bomb Squad gereed vir aksie . . . Hier wag Frans Steyn, Herschel Jantjies, RG Snyman en Francois Louw om opgestuur te word in die WB-eindstryd. Foto: Getty Images

“Dit sal selfs ’n beter sport wees as die getal spelers op die plaasvervangersbank verminder word. Wanneer ’n halwe span opkom met vars bene en skerp koppe, teen ouens wat naby aan uitputting is, word die spel verby die grense van normaliteit gedruk,” skryf Guscott in ’n rubriek in The Rugby Paper.

“Ons moet verseker rugby bly ’n spel waarin vaardighede en fiksheid belangrik bly, self al het die fiksheidselement verbrokkel. ’n Speler soos Alun Wyn Jones (Wallis se ysterkaptein) en Mako Vunipola (Engelse stut) kan vir 80 minute volhou, maar daar is vrek baie spelers wat nie kan nie. Die enigste probleem is dat hulle nie die prys daarvoor hoef te betaal nie,” sê hy.

“Die spel is op baie maniere wonderlik, maar ons moenie bang wees om dit beter te maak nie. Jy kan steeds ses of agt spelers op die bank hê, maar slegs drie van hulle gebruik. Ek glo die spel kan steeds beter en meer aanskoulik word om te speel en te kyk deur die getal plaasvervangers te beperk – en dit behoort die volgende groot stap te wees wat ons neem.”

Krige, voormalige Springbok-flank en -kaptein, sê die reëls is daar om benut te word.

“Ek dink dit was ’n briljante strategie van Rassie Erasmus om ses voorspelers en twee agterspelers op die bank te kies,” sê Krige.

“Daar is steeds baie vaardighede betrokke. Onthou, jy kan dit net doen as jy ’n ou soos Frans Steyn op die bank het, wat bykans elke posisie van nr. 10 tot nr. 15 kan dek. Sonder so ’n ou kan jy nie daardie strategie volg nie. Nie elke span het die spelers om dit te doen nie.”

Corné Krige, voormalige Bok-flank en -kaptein. Foto: Gallo Images

Krige gee gelyk dat ’n mens steeds hoë vaardighede en fiksheid wil sien, maar stel ’n ander oplossing voor.

“Daar stem ek saam met hom, maar ek dink dit gaan oor die getal wedstryde en die hoeveelheid rugby wat deur ’n jaar gespeel word. Veral stutte en hakers, daardie ouens vat ongelooflik baie houe.”

Plaasvervangers is dus juis ’n manier om te sorg spelers se bene hou ’n paar jaar langer.

Bowendien kon Engeland presies dieselfde as die Bokke gedoen het.

“Ek dink nie dit is suur druiwe nie, almal in Engeland het maar seer. Maar die reëls is daar en dit moet benut word. Dit maak dinge interessant. Hulle kon dieselfde gedoen het,” sê Krige.

“Ek wonder of hy (Guscott) daardie aanmerkings sou maak as Engeland die oorhand gehad het.”