Die Springbok-rugbyspan se regtervleuel, Cheslin Kolbe (25), het Maandag op Twitter gesê dat hy en van sy spanmaats terug na Suid-Afrika op pad is.

Die skrumskakel Cobus Reinach, flank Kwagga Smith, stut Vincent Koch, regtervleuel Cheslin Kolbe en die Springbokke se publisiteitsbestuurder, Annelee Murray. Foto: Twitter/Cheslin Kolbe

Die hele span vlieg nie saam nie en die laaste spelers keer eers Woensdag van Japan af terug.

Saam met Kolbe op die vlug was die skrumskakel Cobus Reinach, die flank Kwagga Smith en die stut Vincent Koch.

“Ons kom huis toe!” lui die opskrif by die twiet.

Meer as 1 000 mense het in die driekwartier vandat die twiet geplaas is aangedui dat hulle daarvan hou. Dit is meer as 100 keer gedeel.

Ondersteuners van die Bokke was gaande oor die foto en het blitsvinnig in die kommentaarafdeling van hulle laat hoor.

“Ek gaan by die lughawe wag,” lui een van die twiets.

’n Ander skryf: “En ons gaan wag vir julle, Wêreldkampioene.”

“Dit is jammer dat ek nie op die O.R. Tambo-lughawe kan wees nie. Maar ek gaan my beurt afwag vir wanneer julle die 11de na Kaapstad kom.”

Intussen sal Johannesburgers die eerste kykie kry van Rassie Erasmus, afrigter, Siya Kolisi, kaptein, en Handré Pollard, onderkaptein, wanneer hulle Dinsdag na verwagting om 16:30 op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg aankom.

Hulle sal kort daarna die publiek en die media toespreek.

Die Gautrein het gratis ritte beskikbaar gestel vir ondersteuners wat lughawe toe wil gaan om die span daar te verwelkom.

Die Springbokke kom Saterdag met die Webb Ellis-trofee by hul hotel in Japan aan.