Die All Black-senter Jack Goodhue het sy snor geskeer vir die “grootste wedstryd” van sy loopbaan Saterdag, maar sê sy bekende blonde mullet-haarstyl gaan nêrens nie.

Stuff berig snorre en haarstyle was Vrydag ’n groot besprekingspunt by Nieu-Seeland se ontspanne mediakonferensie in Tokio.

Weg met die snor, maar die mullet-haarstyl sal bly, sê Jack Goodhue. Foto: Getty Images

Die All Black-hulpafrigter Ian Foster is uitgevra oor Goodhue se voorbereidings vir die Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Ierland.

“Hy het daardie simpel snor afgeskeer, so dit is ’n goeie teken dat hy voortreflik voorberei,” het Foster met ’n glimlag gesê.

’n Verleë Goodhue het bygevoeg: “Ek verduur bietjie van ’n moeilike tyd hieroor. Ek kan nie in hierdie span wen nie.”

Goodhue hou egter vol hy gaan nie met sy mullet-haarstyl peuter nie.

“Ek gaan nie van my mullet ontslae raak nie. Jy kan my elke week vra. Dit gaan nêrens nie,” het die 24-jarige Crusaders-ster gesê.

“Daar is inderwaarheid wetenskaplike bewyse wat toon dit maak my vinniger. Dit is by Harvard gedoen, dink ek.”

Foster het erken die span se haarstyle word al meer “die hoogtepunt van die week”, met ses of sewe haarstiliste wat die spelers in die kleedkamer besoek om te verseker die All Blacks lyk op hul beste.

“Dit is eintlik nogal ’n skouspel.”

Goodhue het op ’n ernstiger noot gesê die toets teen Ierland gaan die “grootste wedstryd” van sy jong loopbaan wees.

– Sportredaksie