Van spelskepper na musiekmaker – daar steek toe meer in die All Black-losskakel Richie Mo’unga se arsenaal as sakke vol rugbytalent.

Stuff berig Mo’unga (25) is inderdaad ’n begaafde klavierspeler wat van sy spaartyd by die Wêreldbekertoernooi in Japan gebruik om musiek te maak.

Mo’unga, wat in die verlede saam met sy Crusaders-spanmaats in musiekvideo’s verskyn het, was die ster van ’n paar kort video’s wat die All Blacks Dinsdag op Instagram gedeel het.

Hy word gewys waar hy Beyonce se “Halo” by die span se hotel in Japan speel, voordat die stut Atu Moli hom by Mo’unga aansluit en die duo die ou gunsteling “Heart and Soul” opvoer.

Die vleuel Sevu Reece hou sy lyf kondukteur, terwyl die losvoorspeler Shannon Frizell in die agtergrond dans.

“Spelskepper . . . en klavierspeler. Klink pragtig, Richie Mo’unga,” sê die All Blacks saam met die plasing.

– Sportredaksie