Die Wallaby-afrigter Michael Cheika en stormram-senter Samu Kerevi was Sondag briesend in Japan nadat die Franse blaser Romain Poite wéér te veel van die aandag in hul wedstryd teen Wallis opgeëis het.

Die Australiërs het ’n uitstekende wedstryd met 29-25 verloor en is waarskynlik nou bestem om tweede in Groep D te eindig. Vanselfsprekend het dít Cheika-hulle se bui verduister – en Poite moes dit ontgeld.

Die Fransman is in die spervuur omdat hy ná 35 minute ’n strafskop teen Kerevi gegee het. Die senter was sterk op die aanval toe hy die Walliese verdediger Rhys Patchell met die voorarm afgestamp het dat laasgenoemde hik. Poite en die TV-skeidsregter Ben Skeen het die voorval bespreek en besluit Kerevi se voorarm het Patchell se keel getref.

Die Walliesers was in daardie stadium met 13-8 voor, maar het vyf minute met ’n voorsprong van 23-8 gaan uitrus, danksy die strafskop wat teen Kerevi toegeken is en ’n verdoelde onderskepdrie.

Kerevi het geen doekies omgedraai oor sy ongelukkigheid nie.

“Met die pad wat rugby nou gaan, kan ek net sowel by die Nasionale Rugbyliga aansluit en kyk hoe hulle hul sport reguleer,” het Kerevi volgens Fox Sports gesê.

“Ons is hier om reguit in mense se rigting te hardloop. Patchell het sy werk probeer doen en ek myne.

“Ek moet versigtiger wees. Dit voel of ek die span in die steek gelaat het. Maar rugby is nie ’n kontaksport nie, dis ’n sport van botsings. As jy raak-raak soek, gaan speel basketbal.”

Cheika was ewe kwetsend in sy kritiek, en het gesê Poite se beslissing is ’n verleentheid vir rugby.

“Die beslissing was nogal snaaks, want ek dink ek het al voorheen iets soortgelyks gesien. Dit kon Reece Hodge gewees het, ek’s nie seker nie,” het hy sarkasties gesê.

Hodge is natuurlik die Aussie-vleuel wat verlede week vir drie wedstryde geskors is vir ’n omstrede duikslag teen Fidji.

“Wanneer ons speler dit doen word hy geskors, maar dié keer word ons span gestraf. As ’n voormalige rugbyspeler is ek verleë hieroor.”

Die voorval het ’n lang skaduwee gewerp oor ’n wedstryd waarin Wallis se Rooi Drake in die eerste helfte al die reëls gemaak het, maar in die tweede skaars die bal gesien het.

Marnus Kok berig Wallis was nie bang om met die bal te hardloop nie en het telkemale uit hul eie helfte van die veld gehardloop. Die vleuel Liam Williams en heelagter, George North, was gevaarlik op die aanval.

Ná rustyd het die Aussies verwoed aangeval en balbesit oorheers, maar hulle kon net nie die pyp rook nie – deels weens Wallis se goeie verdediging in die middelveld. Die Aussie-losskakel Bernard Foley was duidelik een van sy span se swakplekke en dinge het beter gegaan toe hy die veld kort ná rustyd verlaat het.

Die Rooi Drake se groot uitblinkers was hul lostrio, Josh Navidi, Justin Tipuric en Aaron Wainwright, wat die stryd om die losbal gemaklik gewen het. Boonop het Tipuric ook goeie lynstaanbesit vir sy span verseker en ’n teenwoordigheid in talle bewegings gehad.

Daar was meer as genoeg bewyse dat Warren Gatland se Wallis nie in Japan op ’n uitstappie is nie. - Sportredaksie

Puntemakers:

Wallis 29 (23): Drieë: Hadleigh Parkes en Gareth Davies. Doelskoppe: Dan Biggar en Rhys Patchell. Strafdoele: Patchell (3). Skepdoele: Biggar en Patchell.

Australië 25 (8): Drieë: Adam Ashley-Cooper, Dane Haylett-Petty en Michael Hooper. Doelskoppe: Matt To’omua (2). Strafdoele: Bernard Foley en To’omua.