Selfs die Springbokke is nie immuun teen kritiek nie, met Faf de Klerk wat Woensdag op die span se nuuskonferensie in Tokio erken het hy ervaar die soet en suur van sosiale media eerstehands.

“Spelers sê altyd hulle bly weg van sosiale media en ons probeer,” sê De Klerk.

“Dis egter onmoontlik om nie baie van die dinge wat op sosiale media is raak te sien nie. Sommige van die goed waarmee hulle vorendag kom is werklik snaaks. Sommige mense raak wel ook baie persoonlik. Ek dink as jy vasgevang word in daardie dinge, verloor jy fokus.”

Daar word veral op sosiale media met die 28-jarige blondekopskrumskakel die spot gedryf omdat hy as deel van die Bokke se wedstrydplan baie skop.

“Een van die grappe wat ek geniet het, is waar ek die bal spin en skop, en gevra word is dit ’n spinnekop. Dit was nogal snaaks vir my.”

De Klerk-hulle begryp egter ondersteuners is passievol en lief vir die Bokke.

“As hulle iets fout sien of verskil van iets, is dit nie noodwendig dat hulle negatief is nie. Ons waardeer dit dat mense ons ondersteun, al is dit op ’n positiewe of negatiewe wyse. Uiteindelik as ons wen, sal die mense bly wees dat ons die werk kon doen,” sê hy.

“Ons weet in die kamp wat vir ons werk of nie. Ons luister na die afrigters en die spelers om ons, dis die belangrikste.”

De Klerk wou nie te veel besonderhede verskaf oor waarom hy so baie skop nie.

“Ons skop baie, ja, maar ons probeer die spel lees en momentum kry. Japan het die besit gewen as ons geskop het, maar hulle kon selde iets daarmee verrig wat ’n positiewe uitkoms vir ons was.”

’n Verskillende uitdaging wag volgens De Klerk op die Springbokke teen Wallis. Baie van die Bokke se sukses in Sondag se halfeindstryd in Jokohama kan afhang van hoe goed hul belangrikste besluitnemers agterlangs ruimte identifiseer.

“Ons vleuels het baie goeie lugspelers geword en hopelik kan hulle ’n paar balle teen Wallis wen. Dit gaan ’n groot lugstryd wees,” sê hy.

“Ons nr. 9, 10 en 15 moet besluit watter skoppe (lang skoppe veld af, hoë hangskoppe of taktiese skoppe) ons moet gebruik en wie van ons gaan skop. Ons gaan nie altyd met ’n vooropgestelde skopplan op die veld nie, ons probeer die spel lees. Ek luister veral baie wat Handré (Pollard) aan my sê.”

Oor sy goeie verdediging waarmee hy die Speler van die Wedstryd-prys teen Japan gewen het, glimlag De Klerk breed. Hy word as een van die Bokke se voorste kommunikeerders beskou wat hul verdediging betref.

“Dit mag dalk lyk asof ek nie ’n rol het nie, maar ek moet ’n sekere ruimte patrolleer. Ek moet seker maak dat ons verdedigers aan albei kante van die losskrums het en ons nommers (’n verdediger teenoor elke aanvaller) het,” sê De Klerk.

“Daar word van ons skrumskakels verwag om vinnig van die merk te kom en soms omgekeerde balbesit te bewerkstellig.”

Hy sê iets was positief is, is dat die ouens altyd kans sien vir ’n uitdaging.

“Ons het oor fisiekheid voor die toets teen Japan gepraat en was goed daarmee teen hulle. Hopelik kan dit net beter en beter raak.”

* Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Bokke, sê dat Cheslin Kolbe weens ’n besering nie Dinsdag aan Suid-Afrika se veldoefeninge deelgeneem het nie.

“Ons is hoopvol dat hy betyds sal herstel,” sê Stick.

“Op die oomblik is almal nog vir die halfeindstryd beskikbaar.”