Die uitgesproke voormalige Engelse rugbyspeler James Haskell is woedend oor Wêreldrugby se behandeling van Jaco Peyper.

’n Foto saam met Walliese ondersteuners waar die Suid-Afrikaanse skeidsregter glo die elmboog nadoen wat gelei het tot die Fransman Sébastien Vahaamahina se rooikaart in ’n Wêreldbeker-kwarteindstryd, het hom sy aanstelling as blaser vir Saterdag se halfeindstryd tussen die All Blacks en Engeland in Jokohama gekos.

Wêreldrugby het ná die reaksie oor die foto op sosiale media Maandag besluit om Peyper met Wallis se Nigel Owens vir die wedstryd te vervang.

Die 34-jarige Haskell, wat deesdae in die gemengde gevegskunspromotor Bellator MMA se afdeling vir swaargewigte deelneem, hou nie terug nie wanneer hy as lid van ’n paneel – wat die voormalige Bok-kaptein John Smit en Engelse WB-wenner Mike Tindall insluit – daaroor uitgevra word.

* Waarskuwing: Die video bevat gekruide taal.

– Sportredaksie