Rugbymoondhede in die Noordelike Halfrond se behandeling van die Suidsee-eilandspanne grens aan kolonialisme, sê Brent Impey, voorsitter van die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NSRU).

Stuff berig Impey sê die Suidsee-eilandspanne word verhoed om sommige van hul beste spelers te gebruik nadat Fidji, Tonga en Samoa weer eens nie vir die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi kon kwalifiseer nie.

“Daar moet kiesbaarheidsreëls wees om spelers wat vir top-toetsspanne soos die All Blacks gespeel het, toe te laat om na sê nou maar ’n jaar terug te keer en vir hul land van geboorte te speel,” sê Impey.

“Dink hoeveel sterker Tonga sou wees met Charles Piutau in die span, of Samoa met Steven Luatua. Dit sou ’n tamaai verskil gemaak het.”

Impey meen Europese klubs dra by tot die probleem deur Suidsee-eilandspelers te ontmoedig om hul lande te verteenwoordig.

Hy sê Australië en Nieu-Seeland het druk uitgeoefen om verandering mee te bring, maar is deur beheerliggame in die Noordelike Halfrond teengestaan.

Sevu Reece is een van verskeie All Blacks wat in die Suidsee-eilande gebore is. Foto: Getty Images

“Jy kan die vinger direk in die rigting van Skotland, Ierland, Wallis en Engeland wys. Kyk na hulle, kyk na hulle spanne en wat hulle gedoen het met betrekking tot reëls wat slegs hulle pas.

“Ek is in die versoeking – hoewel ek seker nie so ver sou gaan nie – maar ek is in die versoeking om dit feitlik as kolonialisme te beskryf.”

Volgens die Pacific Rugby Players Welfare-groep is sowat 20% van alle beroepspelers van die Suidsee-eilande afkomstig.

Impey se uitlatings sal verskeie oë laat rek, aangesien die NSRU gereeld vir sy behandeling van Suidsee-eilandspelers gekritiseer word.

Baie van die eilande se beste spelers is as tieners na Nieu-Seeland gelok, insluitend die vleuel-sensasie Sevu Reece, wat graag deur Fidji by vanjaar se toernooi ingespan wou word voordat die All Blacks hom in Julie sy toetsbuiging gegee het.

Nieu-Seeland het hom weens finansiële redes ook nie geskaar agter die voorstel om ’n Suidsee-eilandspan by die Superrugbyreeks in te sluit nie, terwyl die All Blacks slegs een toets op die eilande gespeel het. Dit was in 2015 teen Samoa, nadat ’n veldtog deur hoëprofiel-ondersteuners groot druk op die NSRU geplaas het.

“Natuurlik, die Suidsee-eilandspanne benodig ondersteuning,” sê die Kiwi-rugbykommentator Scott Stevenson.

“Maar asseblief. Een toetswedstryd in Apia en ’n deurlopende geweier om beroepsrugby na die eilande uit te brei, verskaf jou nie ’n morele gesagsposisie nie.”

– Sportredaksie