Leerlinge so jonk soos vier jaar oud het Vrydag gewys hul bloed is groen deur behoorlik gees te vang vir die Springbok-rugbyspan se groot kragmeting Saterdag teen die Rose in Japan.

Die wedstryd om die Wêreldbeker (WB) skop om 11:00 (SA tyd) in Jokohama, Japan, af.

Die kleingoed van die Huppelland Preprimêre Skool in Kaapstad het Vrydag almal Springbok-truie aangetrek.

Laerskool Courtrai in die Paarl maak ’n hartjie vir die Springbokke.

Hulle is net tussen die ouderdom van vier en ses jaar, maar Bok-koors het beslis onder dié kinders geheers.

Helené Slabbert, onderwyseres by Huppelland, sê almal kon Vrydag soos die Bokke aangetrek het.

“Dit was eintlik maar net vir die Wêreldbeker. Almal was aangetrek en almal was opgewonde. Ons het vlaggies gehad. Dit was baie, baie lekker.”

Die Laerskool Courtrai in die Paarl het Vrydag gewys dat hul harte beslis groen is deur spesiaal ’n groot hart vir die Springbokke te maak.

Kent Chimukuyu (5), Grace Mlungu (5), Nica van Schalkwyk (5), Luyolo Luphondo (5), Matthias Barkhuizen (4) en onder Eli van Wyk (4) van die Huppelland Preprimêre Skool in Kaapstad.

Hettie Smit, woordvoerder van die Laerskool Durbanville, sê alle onderwysers en leerlinge by die skool het Vrydag Springbok-truie gedra. Almal is opgewonde oor Saterdag se wedstryd en glo beslis dat Suid-Afrika sal wen, sê Smith.

Die Laerskool Bellville-Noord het Vrydag ook gees gevang

by hul gr. 4- en gr. 5-prysoggend en die Bokke sterkte toegewens.

Die Hoërskool Jan van Riebeeck het al vroeg begin gees vang deur reeds Donderdag Springbok-truie aan te trek.

Die Hoërskool Jan van Riebeeck se leerlinge se bloed is groen.
Leerlinge van die Laerskool Durbanville ondersteun die Springbokke.

Leerlinge en onderwysers by die skool was in Groen-en-goud geklee om hul ondersteuning vir die Bok-span te wys.

Intussen het die Edgemead Primary School Vrydag mense op sosiale media aan die praat gehad nadat ’n video, waarin leerlinge by die skool lekker sing, op Facebook geplaas is. Die video is meer as 700 keer gekyk in die uur sedert dit opgelaai is.

“Absoluut ongelooflik, dit gee my hoendervel en bring trane in my oë,” skryf een persoon.

’n Ander persoon skryf: “Ek hou daarvan dat Edgemead Primary School sulke goed met die kinders doen.”

Leerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.