Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, het Maandagaand sy steun agter gegriefde inwoners van die metro gegooi wat Sondag deur die Springbokke se oorwinningsparade oorgesien is. 

Terwyl die vreugdevure Maandag hoog gebrand het tydens die Springbok-rugbyspan se oorwinningsparade in Kaapstad, het die ontevredenheid in Port Elizabeth uitgekring nadat daar besluit is dat die bus met die spelers die afgelope Sondag nie sekere dele in die stad sou aandoen nie.

Te midde van dié ontevredenheid en teleurstelling het die Oostelike Provinsie Rugbyunie (Opru) geëis dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die parade moet terugbring na die stad en kom voltooi, al is dit met net ’n derde van die spelers.

Duisende aanhangers wat Sondag ure lank in Port Elizabeth se noordelike voorstede (voor die Cleary Park-winkelsentrum en langs Stanfordweg) en by die bekende vierrigtingkruising in Uitenhage gestaan en wag het, is teleurgestel toe die bus nie soos beplan by hulle verbygekom het nie.

By hierdie kruising in Uitenhage het inwoners vanaf 08:00 op die Bokke gewag, wat toe nie daar aangedoen het nie. Foto: Wesley Klue

By die William Moffett-snelweg en die Greenacres-inkopiesentrum het honderde aanhangers gefrustreerd weggestap. Talle seuns het met hul Springbok-vlae in die hand hul trane weggepink.

Sommige aanhangers het by Helenvale in Stanfordweg buitebande gebrand en motors met klippe bestook.

Bobani het Maandagaand in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die inwoners se pleidooi oor die voorval.

Volgens hom het die munisipale Facebook-blad verskeie boodskappe van inwoners ontvang wat onder meer terminaal siek is en kinders wat hartseer en teleurgesteld Sondag moes huis toe gaan. 

“Ek is deur munisipale amptenare verseker dat hulle nie die besluit hieroor geneem het nie en dat alle relevante belanghebbendes ’n rol gespeel het gedurende die beplanningsfases.”

Bobani het ook gesê hy is besig om ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) te skryf om die invloed en pleidooi van die teleurgestelde inwoners te benadruk.

“Ek sal amptenare opdrag gee om mettertyd Saru se terugvoer  deur te gee, aangesien hulle die enigste gesag is wat hierdie saak kan regstel,” het Bobani gesê. 

Rayaan Adriaanse, mediaskakelbeampte vir die Springbokke, kon nie Maandagaand onmiddellik vir kommentaar bereik word nie. 

’n Inskrywing wat Sondagmiddag op die Springbokke se Twitter-rekening geplaas is, het om verskoning gevra aan die noordelike voorstede se inwoners.

Luidens die inskrywing het skares, verkeersopeenhopings en die Springbokke se vlug Kaapstad toe, daartoe gelei dat ’n onvermydelike verandering aan die beplande roete vir die parade gedoen is.

By Opru se kantoor moes André Rademan, president, en Thando Manana, bestuurshoof, Maandagoggend vure doodslaan toe die ontevredenheid na dié unie oorspoel.

Christian Martin, menseregteaktivis in die noordelike voorstede, het vroegoggend by Opru se kantoor aangekom. Hy het die hekke met ’n slot en ketting toegesluit en die ingang met sy motor versper om antwoorde van die unie te eis.

Martin sê die gebeure bewys hoe die inwoners van die noordelike voorstede alewig aan die kortste ent trek.

Hy sê hulle eis ’n “verskoningstoer” vir die duisende aanhangers wat teleurgesteld gelaat is.

Hy glo Saru moet die toer kom voltooi, al ry die bus net in die gebiede waar hulle nie kon uitkom nie en al deel hulle net handtekeninge uit.

“Daar moet dringend gekyk word na ’n oplossing en hoe om die situasie te beredder. Ons sal Saru sewe dae kans gee om op ons voorstelle te reageer,” sê hy.

Christian Martin het die hekke van Opru se kantoor gaan sluit. Foto: Lulama Zenzile

“Dit gaan oor meer as net dié gebiede. Jong seuns wat met hul hele hart hul helde wou sien, is van die geleentheid beroof.”

Rademan verduidelik dat die skuld nie voor hul deur gelê kan word nie, want hulle het geen aandeel in die beplanning van die toer gehad nie.

Opru het die teleurstelling aan Saru oorgedra, wat volgens Rademan ook die voorval betreur.

“Die beplanning moes beter gedoen word. Die betrokkenes was Saru en die metro. Die unie kan en gaan nie verantwoordelikheid neem vir iets waaroor hulle nie in beheer was nie.”

Rademan sê verder dit is hoog tyd dat mense begin besef Opru is die bewaarders van rugby in die Oos-Kaap en dat die unie as sulks behandel moet word.

Die unie moet volgens hom meer direk by beplanning betrek word en nie na die kantlyn geskuif word as dit by rugbysake kom nie.

David Goliath, ’n inwoner van Uitenhage wat saam met honderde ander by die kruising gewag het, sê die teleurstelling is daar, maar hulle besef dit is nie die Bokke se skuld nie. Hy plaas die skuld voor die deur van die metro se reëlingskomitee.

Inwoners het vroeër geld ingesamel om spesiaal ’n banier te laat maak, sowel as plakkate vir die kinders om die spelers te verwelkom.

Charmaine Williams, direkteur vir sport en ontspanning van die metro, wat met die reëlings vir die toer gehelp het, sê sy is daarvan bewus dat die skuld nou op haar gepak word. Volgens haar was die besluit om die toer kort te knip, egter Saru s’n.

“Ek is nie by magte om so ’n besluit te kon neem nie. As ’n inwoner van die noordelike gebiede is ek self ook teleurgesteld. Ek dink die Springbokke se verskoning som dit alles op.”

André Rademan, Opru se president, het aan Martin verduidelik dat hulle niks met die reëlings vir die Springbok-toer te doene gehad het nie. Foto: Lulama Zenzile