Tongaanse rugbyspelers is berug vir hul klipharde duikslae en vlymskerp vaardighede, maar dit is hulle sangtalent wat die hart van die Wêreldbeker (WB)-gasheerland verower.

Die span was Dinsdag op ’n vlug na die Japanse stad Sapporo vir sy openingswedstryd Sondag teen Engeland toe die spelers uit volle bors op die vliegtuig begin sing.

Hulle het applous van medepassasiers ontvang en Wêreldrugby, wat beeldmateriaal van die oomblik op Twitter geplaas het, het dit as “vlugvermaak op ’n ander vlak” beskryf.

Tonga is ook afgeneem terwyl die spelers saam by ’n spanvergadering ’n paar liedere sing.