Wag jy in afwagting dat die Springbok-rugbyspan uiteindelik Dinsdag in Suid-Afrika land en is jy opgewonde oor hul pronkparade wat Donderdag begin?

Dan is jy op die regte plek, want Netwerk24 het spesiaal vyf plakkate gemaak vir wanneer jy die Springbokke groet.

Laai een of sommer al vyf plakkate af en neem dit saam wanneer die span op die lughawe aankom of tydens hul parade.

Die vyf plakkate lui: “Bok-koors”, “Goed, beter, Bokke!”, “Ons Beker loop oor!”, “Een span, een nasie, een beker!” en “Lief jou Bokkie!”.

Die Springbokke sal vandeesweek in van Suid-Afrika se hoofstede te sien wees wanneer hulle deur die strate gaan ry en die Wêreldbeker vertoon. 

Die span sal Donderdag in Pretoria, Johannesburg en in Soweto wees, waarna hulle Vrydag in Durban sal kuier. Hulle is Saterdag in Oos-Londen en Sondag in Port Elizabeth en sluit die toer Maandag in Kaapstad af.

Die presiese besonderhede sal nader aan die tyd bekend gemaak word.

Vroeër is berig dat Johannesburgers reeds Dinsdag die eerste kykie van Rassie Erasmus, afrigter, Siya Kolisi, kaptein, en Handré Pollard, onderkaptein, kan kry wanneer hulle na verwagting om 19:00 by die O.R. Tambo-lughawe land. Hulle sou aanvanklik om 16:30 geland het, maar hul vlug is weens tegniese probleme vertraag. Hulle sal kort daarna die publiek en die media toespreek.

Die Gautrein het gratis ritte vir ondersteuners belowe wat lughawe toe wil gaan om die span te verwelkom.

Al die spelers is egter nie op dieselfde vlug nie en van hulle land eers Woensdag.

Die Springbokrugbyspan se regtervleuel, Cheslin Kolbe (25), het Maandag op Twitter gesê dat hy en van sy spanmaats ook reeds op pad Suid-Afrika toe is. Saam met Kolbe op die vlug was die skrumskakel Cobus Reinach, die flank Kwagga Smith en die stut Vincent Koch.


KLIK, LAAI AF EN DRUK UIT!

Klik om af te laai en uit te druk: BOKKOORS

Klik om af te laai en uit te druk: EEN SPAN, EEN NASIE, EEN BEKER

Klik om af te laai en uit te druk: GOED, BETER, BOKKE!

Klik om af te laai en uit te druk: LIEF JOU BOKKIE!

Klik om af te laai en uit te druk: ONS BEKER LOOP OOR!