Wanneer afrigters sê hul spanne moet in die “regte areas speel”, is dit beslis nie ’n verwysing na hulle eie kwartgebied nie.

Vir Pieter-Steph du Toit, Wêreldrugby se Speler van die Jaar en die Springbokke se ysterflank, is daar egter min dinge só lekker as om daarmee getaak te wees om ’n aanslag op sy doellyn af te weer.

“Ek belowe ons het nie geoefen om in ons kwartgebied te verdedig soos ons het nie,” het die 27-jarige Du Toit Maandag in Kaapstad gesê.

“Engeland het (in die Wêreldbeker-eindstryd) vir amper 30 fases in ons kwartgebied gekampeer. Dis vir ons lekker om te verdedig. Dis daardie trots wat jy het as jy daar wegstap. Jy wil eintlik hê hulle moet daar kom, want jy kry so ’n lekker gevoel.”

Vir Bok-ondersteuners is dit natuurlik in ewe mate senutergend as lekker om te sien hoe Engelsmanne skynbaar op pad doellyn toe afgemaai word.

Du Toit se 61 duikslae in die toernooi was die meeste onder die Bokke. Siya Kolisi, die Bok-kaptein, was die tweede beste Suid-Afrikaner met 57 duikslae.

Dis vir ons lekker om te verdedig. Dis daardie trots wat jy het as jy daar wegstap.
Pieter-Steph du Toit

Volgens die blondekopflank het die span se vermoë om druk te hanteer “uit die hart” gekom eerder as dat daar ’n spesifieke tegniek was om dit te vestig.

“Dis maar net iets wat ons in die span reggekry het en dit het ons bygebly,” sê Du Toit.

Die ongelooflike dryfmaalbeweging van 50 meter wat teen Japan tot Faf de Klerk se drie aanleiding gegee het, was wel die eindproduk van buitengewone beplanning.

“Ons is een middag as span in ’n kamer toegesluit om ons mauling te ontleed. Ons het dit reggekry en ná ’n dryfmaal van 50 meter ’n drie aangeteken,” sê Du Toit.

Die Bokke se skoon lynstaanbesit het die Bokke ook baie gehelp.

“Ons lynstane het goed gefunksioneer. Ons het in Lood (de Jager) en Sous (Franco Mostert) ouens gehad wat baie goed is met die lynstaantekens. Matt Proudfoot (die voorspelerafrigter) het saam met hulle baie harde werk ingesit.”

* Du Toit het intussen bekendgemaak dat hy ’n nuwe kontrak van twee jaar met die Westelike Provinsie gesluit het. Hy sal dus nog sy rugby in Suid-Afrika speel wanneer die Britse en Ierse Leeus in 2021 kom toer.