Die Suid-Afrikaner van geboorte Lappies Labuschagne sal Japan aanvoer wanneer die gasheerland Saterdag teen Ierland in die Wêreldbeker-rugbytoernooi te staan kom.

Dié 30-jarige flank en boorling van Pretoria, wat vroeër vanjaar sy toetsbuiging vir sy aangenome land gemaak het, neem die kapteinskap oor by Michael Leitch, wat hom op die plaasvervangersbank bevind.

Jamie Joseph, afrigter van die Brave Blossoms, het vyf veranderinge aan die span aangebring wat effens gesukkel het in sy eerste wedstryd van die toernooi teen Rusland.

Amanaki Mafi het herstel van ’n besering en sak op agtsteman, terwyl die ervare slot Luke Thompson ook terug is in die beginspan.

Tog sê Joseph Leitch bly ’n belangrike deel van die span.

“Michael is uit die aard van die saak ons kaptein, maar as ons ons doelwitte wil bereik, sal ons impak en ervaring op die plaasvervangersbank moet hê. Al die beste spanne in die wêreld het goeie plaasvervangers.

“As ons in die posisie gaan wees om die wedstryd te wen, sal dit in die laaste vyf of tien minute beslis word en ons sal goeie leierskap nodig hê.

“As ’n afrigter kry ek albei dinge wat ons nodig het. Ons het spelers wie se spelpeil baie goed is en ons het ervare spelers wat later opkom,” sê Joseph.

Joe Schmidt, afrigter van Ierland. Foto: Getty Images

Die stut Jiwon Koo en haker Shota Horie kry ook kans in die opdrafspan, met Kazuki Himeno wat na flank skuif om plek te maak vir Mafi op agtsteman.

Dit is nie die eerste keer wat Labuschagne Japan aanvoer nie. Hy het in sy toetsbuiging, vroeër vanjaar teen Fidji, ook die span op die veld gelei.

Ryohei Yamanaka begin op heelagter, met Will Tupou wat na vleuel toe skuif.

* Ierland se Jack Carty moet Saterdag die ervare losskakel Johnny Sexton se skoene vol staan. Dit sal slegs die tweede keer wees wat die 27-jarige Carty homself in die Iere se beginspan bevind.

Sexton het die veld Sondag teen Skotland verlaat nadat hy ’n hou op die been gekry het.

Dit is een van vier veranderinge wat die Iere se afrigter, Joe Schmidt, aan die span aangebring het vir die kragmeting met Japan.

Sexton se eerste keuse as adjunk, Joey Carbery, het herstel van ’n besering en bevind hom op die plaasvervangersbank.

Rob Kearney (heelagter) en Keith Earls (vleuel) het herstel van die beserings wat hul uit die stryd teen die Skotte gehou het. Chris Farrell vervang Bundee Aki op binnesenter, wat die veld vroeg teen Skotland met ’n besering verlaat het.

“Ek het gedink ons het baie goed teen Skotland gespeel. Dit gee ons selfvertroue en bied ons die geleentheid om ’n paar kombinasies op die proef te stel, terwyl ons ons pad deur die groepwedstryde vind,” sê Schmidt.

Volgens die breier sal die ruskans die druk op Sexton verlig met die oog op ’n moontlike stryd teen Suid-Afrika in die kwarteindronde.

Japan: Ryohei Yamanaka, Kotaro Matsushima, Timothy Lafaele, Ryoto Nakamura, Will Tupou, Yu Tamura, Yutaka Nagare, Amanaki Lelei Mafi, Lappies Labuschagne (k), Kazuki Himeno, James Moore, Luke Thompson, Jiwon Koo, Shota Horie, Keita Inagaki. PLAASVERVANGERS: Atsushi Sakate, Isileli Nakajima, Asaeli Ai Valu, Wimpie van der Walt, Michael Leitch, Fumiaki Tanaka, Rikiya Matsuda, Lomano Lemeki.

Ierland: Rob Kearney, Keith Earls, Garry Ringrose, Chris Farrell, Jacob Stockdale, Jack Carty, Conor Murray, CJ Stander Josh van der Flier, Peter O’Mahony, James Ryan, Iain Henderson, Tadhg Furlong, Rory Best (k), Cian Healy. PLAASVERVANGERS: Sean Cronin, Dave Kilcoyne, Andrew Porter, Tadhg Beirne, Rhys Ruddock, Luke McGrath, Joey Carbery, Jordan Larmour.