“Lappies”.

Dié Afrikaanse bynaam het oornag ’n huishoudelike naam in Japan én in ander lande geword.

Lappies Labuschagné, 30-jarige flank met sy wortels in Noordwes en die Vrystaat, het die afgelope naweek ’n duidelike verskyning op die rugbyradar gemaak ná Japan se sege van 19-12 oor Ierland onder sy kapteinskap.

Labuschagné het ’n held vir die Japanners geword sedert dié buiteperde se oorwinning in die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Hy is een van drie Suid-Afrikaans-gebore spelers wat in Japan se beginspan ingesluit was.

Dr. Peet Labuschagné, sy pa, sê die gasheerspan se oorwinning Saterdag het met absolute deursettingsvermoë, harde werk, dissipline en onwrikbare geloof van die spelers en afrigtingspan gepaardgegaan.

“Ons erken in nederigheid dat dit slegs moontlik kon wees deur die genade van ons Hemelse Vader,” sê Peet, ’n algemene praktisyn op Schweizer-Reneke waar hy en sy vrou, Rayna, woon.

“Ek glo dit het ’n groot impak op Japan as land en in die rugbywêreld.

“Dis iets wat ’n mens nie regtig in woorde kan beskryf nie – mense het dit nooit verwag nie.”

Dié sege is vir hul gesin besonders en hy glo ook vir sy seun.

Hy het nog nie veel met sy oudste spruit oor die oorwinning gepraat nie, omdat die span gefokus is op die toernooi.

Die egpaar Lappies en Lené Labuschagné met hul seuntjie, Ruagh. Foto: Instagram/ @lenelabuschagne
Lappies Labuschagné met sy vrou, Lené, en hul seuntjie, Ruagh. Foto: Facebook/ Lené Labuschagne
Lappies Labuschagné se ouers, Rayna en Peet, ’n paar jaar gelede. Foto: Facebook/ Rayna Labuschagne

Labuschagné leer Japannees en volgens Peet kom dit voor asof hy gerieflik in dié taal oor die weg kom.

Hy en sy vrou, Lené, en hul seuntjie, Ruagh, is tuis in Japan, waar hy sedert 2016 sy klubrugby vir die Kubota Spears speel. Dié span word deur die Suid-Afrikaner Frans Ludeke afgerig.

Labuschagné, een van drie seuns, is ’n oud-leerling van Grey-kollege in Bloemfontein en het voorheen vir die Vrystaat en die Bulle uitgedraf.

Lappies Labuschagné en Jamie Joseph, Japan se hoofafrigter, omhels mekaar ná hul oorwinning oor Ierland.Foto: Getty Images

Labuschagné was ook kaptein van die Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat (UV), waar hy ’n graad in finansiële wetenskap verwerf het.

Sy jonger broers, Robey en Hardus, is ook gewese Grey-leerlinge.

Dries van der Wal, afgetrede adjunkhoof van Grey-kollege (sekondêr) en voormalige afrigter van die skool se eerste rugbyspan, beskryf Labuschagné as ’n ongelooflike mens wat altyd glimlag.

Van der Wal was destyds Labuschagné se koshuisvader en ook spanbestuurder van die eerste rugbyspan.

“Hy was baie gewild onder die kinders en onderwysers. Beleefd, respekvol en ’n hárde werker op die rugbyveld. Hy het altyd ’n positiewe invloed op sy spanmaats gehad.”

Van der Wal sê die sege moes ongelooflik vir hom as kaptein gewees het en hy is saam met hom bly.