Dit sal ongelooflik baie vir Japanse rugby beteken as die land nou genooi word om deel van die Sesnasies-reeks te word, veral ná hul suksesvolle Wêreldbeker-veldtog.

Só sê een van die Brave Blossoms se Wêreldbeker-kapteins, die Suid-Afrikaans-gebore Lappies Labuschagne (30), tans op besoek aan sy geboorteland.

Hy het gereageer op ’n berig in die Britse media dat Japan op die drumpel is om ’n uitnodiging te kry om deel te word van die Sesnasies-reeks.

Volgens die Daily Mail Online kan Japan ’n “skok-uitnodiging ontvang” om deel te word van Europa se voorste internasionale kompetisie ná sy suksesvolle aanbieding van die Wêreldbeker-toernooi, waarin hy vir die eerste keer die kwarteindronde gehaal het.

Japan het onderweg na die uitspeelrondes met twee Sesnasies-spanne, Ierland en Skotland, afgereken.

Die gasheer is deur die uiteindelike wenner van die toernooi, die Springbokke, in die kwarteindstryd uitgeskakel.

Hoewel die Bokke dié kragmeting met 26-3 gewen het, was hulle met die rustyd slegs 5-3 voor.

“Jy weet waarskynlik meer as ek. Ons was so gefokus op die Wêreldbeker-toernooi dat niks anders werklik getel het nie – en nou span ek so ’n bietjie uit. Maar, wat ek wel kan sê, is dat dit baie sal beteken vir Japanse rugby om gereeld teen die voorste rugbyspanne te kan speel,” sê Labuschagne, wat by sy skoonouers in Bloemfontein kuier.

Die verbetering in Japan se rugby was tydens die Wêreldbeker sigbaar, nou moet ons daarop voortbou en verder verbeter.
Lappies Labuschagne

Hy het reeds by sy ouers in Schweizer-Reneke in Noordwes ’n draai gemaak voordat hy en sy jong gesin volgende week na Japan terugkeer, waar hy klubverpligtinge by die Kubota Spears het.

“Die Wêreldbeker het ’n groot impak op rugby in Japan gehad. Baie mense daar het nie eens van die sport geweet nie. Maar, ek glo ná die suksesvolle aanbieding van die toernooi, is dit ’n heel ander storie.

“Ek hoop die toernooi sal help om meer kinders by die spel betrokke te kry. Hopelik sal dit rugby vorentoe ’n verdere hupstoot gee. Deelname aan die Sesnasies-reeks sal die kersie op die koek wees,” sê Labuschagne, ’n produk van Grey-kollege.

Dat Japan se rugby oor die jare heen verbeter het, is nie te betwyfel nie. Eers het hy Suid-Afrika tydens die Wêreldbeker-toernooi in 2015 in Brighton met 34-32 geskok.

Op vanjaar se toernooi was hy onoorwonne in die groepfase. Benewens sy oorwinnings oor die Iere en Skotte, het hy ook met Rusland (30-10) en Samoa (38-19) afgereken.

“Ons het vir onsself doelwitte gestel en dit was om een van daardie twee spanne (Ierland of Skotland) te klop, toe klop ons albei. Dit het harde werk gekos om te eindig waar ons geëindig het.

“As ons in die toekoms gereeld blootstelling teen die topspanne kan kry, gaan dit van groot waarde wees. Dit sal ook die vlak van klubrugby lig en mededinging onder spelers in Japan bevorder.

“Die verbetering in Japan se rugby was tydens die Wêreldbeker sigbaar, nou moet ons daarop voortbou en verder verbeter,” sê Labuschagne.

* Volgens Wêreldrugby is ’n rekordgetal van 1,84 miljoen kaartjies vir die toernooi verkoop en was die algehele bywoningsyfer ’n verstommende 99,3%.

’n Verder 1,13 miljoen mense het ondersteunersparke in Japan besoek en daar was meer as 1,7 miljard wat na digitale video’s van die toernooi gekyk het.

Die WB-toernooi het Japan se ekonomie ’n geskatte hupstoot van meer as R61 miljard gegee.