Christian Lealiifano, die losskakel wat kanker oorwin het, word versigtig deur die Wallabies by die Wêreldbeker-toernooi gemonitor.

Die Australiese rugbyspan se kondisioneringsafrigter, Brad Harrington, het onthul dat Lealiifano se welstand anders hanteer word as die res van die groep van 31 spelers in Japan. Die rede daarvoor is om voorsiening te maak vir dít wat sy liggaam reeds moes deurmaak om van die kanker te herstel, berig AAP.

Nadat hy laat in 2017 sy terugkeer gemaak het nadat hy ’n jaar lank uit aksie was om behandeling vir leukemie te ontvang, het Lealiifano van krag tot krag gegaan met die Brumbies en was hy die Australiër wat die meeste tyd op die veld deurgebring het in vanjaar se Superrugby-reeks.

Hy het in al 18 sy span se Super-wedstryde opgedraf en is in net drie wedstryde eers laat vervang, wat alle twyfel oor sy fisieke toestand finaal uit die weg geruim het.

Harrington sê Lealiifano is nou vinniger en sterker as wat hy voor die kanker was, wat ’n maatstaf vir sy karakter is.

Die Wallabies se mediese personeel is nietemin waaksaam oor sy welstand, en laat hom langer hersteltyd toe ná wedstryde, laat hom toe om meer tyd in die gimnasium deur te bring en maak sy las by oefeninge ligter.

“Uiteraard is Christian se geval anders. Ons moet sy gesondheid in gedagte hou en hom daarvolgens bestuur,” sê Harrington.

“Dis waarskynlik die intensiteit van die spel wat meer van hom verg en hy word ouer ook, en ons moet ons ouer spelers ietwat anders bestuur.

“Dis ’n soort balanseertoertjie met hom, maar dis iets wat die Brumbies vanjaar regtig goed reggekry het en ons het baie by hulle geleer.”

Lealiifano, wat verlede week 32 jaar oud geword het, sal ná die WB-toernooi in Japan aanbly om sy loopbaan daar voort te sit.

Hy het die Brumbies in sy 150ste wedstryd gegroet toe hulle in die Super-halfeindronde teen die Jaguares in Buenos Aires verloor het.

Lealiifano kon sedert die Bledisloebeker-sege in Perth in Augustus nog nie weer sy beste peil herwin nie, maar bly in aanmerking om die nr.10-trui terug te wen nadat Bernard Foley Sondag gesukkel het om sy stempel af te druk in die nederlaag teen Wallis.

– Sportredaksie