’n Misoes van ’n eerste helfte en bedenklike beslissings in die doodsnikke deur die skeidsregter Angus Gardner, is volgens Argentinië se afrigter, Mario Ledesma, die grootste redes vir hul nederlaag met 21-23 Saterdag teen Frankryk.

Dié nederlaag in hul Wêreldbeker (WB)-openingswedstryd in die Tokio-stadion stel hul aspirasies om die groepfase te oorleef ernstig in die gedrang, aangesien Engeland ook in Groep C is.

Die Poemas het die halfeindronde in die toernooie van 2007 en 2015 gehaal. In 2011 het hulle in die kwarteindronde uitgeval.

Nou staar ’n vroeë vlug terug na Buenos Aires hulle vir die eerste keer sedert 2003 in die gesig nadat hulle nie Saterdag ’n rustydagterstand van 3-20 suksesvol kon uitwis nie.

“Ons is nie toegelaat om ons wedstrydplan op die wedstryd af te dwing nie,” sê Ledesma.

“Ons het geleenthede weggegee en ons kon nie ons eie kanse wat ons geskep het, benut nie.”

Hy was ook nie tevrede met Gardner se vertoning nie – veral nie hoe dié Aussie-blaser, volgens Ledesma, onkantspel in die doodsnikke geïgnoreer het nie.

Die Poemas sal nou op hul beste moet wees vir die res van die groepfase – veral in die wedstryd teen Engeland op 5 Oktober.

Ledesma glo egter nie hul WB-veldtog is noodwendig nou verby nie.

Santiago Medrano en Julian Montoya staan teleurgesteld op die veld ná die eindfluitjie. Foto: Getty Images

“Ek dink nie die wedstryd sal bepaal wie tot die uitklopfase deurdring nie. Ons het ontledings gedoen en vir die eerste wedstryd voorberei.

“Die uitslag is te wyte aan die voorbereiding wat nie goed genoeg was nie.”

Die flank en kaptein, Pablo Matera, sê die nederlaag het hom “bitter” gelaat.

Die stut Nahuel Tetaz Chaparro was ook vies oor die swak begin.

“Daar was te veel dinge wat ons moes verbeter. Ons het daaroor gepraat om die basiese dinge reg te doen. In die tweede helfte het ons begin om te doen wat ons elke dag by ons oefeninge doen.”

Die Franse stut Rabah Slimani sê ’n jaar gelede sou die Franse nie ’n terugvegpoging soos die Argentyne s’n kon oorleef nie.

Hy het teruggedink aan die Bokke se sege in Frankryk verlede jaar, toe die Hane vroeg met 23-9 voorgeloop het, maar eindelik met 26-29 verloor het.

“Nie so lank terug nie, sou ons hierdie wedstryd verloor het. Maar ons het kopgehou om die openingswedstryd te wen en sodoende ’n goeie begin aan die toernooi te maak,” sê Slimani.

“Dit het my aan baie wedstryde herinner. Ek het gedink aan die wedstryd teen Suid-Afrika by Stade de France verlede jaar, waar ons in die laaste sekondes verloor het.

“Vir die eerste keer in ’n hele ruk, het vandag in ons guns afgeloop.” – Reuters