“Lappies Labuschagné is een van die taaiste spelers wat ek nog afgerig het en ek het al baie afgerig.”

Dít was Jamie Joseph, afrigter van Japan, se gevleuelde woorde oor sy Suid-Afrikaanse flank toe hy op Vrydag se nuuskonferensie oor Labuschagné se leierskap voor Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen die Springbokke in Tokio uitgevra is.

Die 30-jarige boorling van Pretoria het Japan vanjaar verskeie kere aangevoer, wat hul Wêreldbeker-sege oor Ierland insluit.

“Hy is ’n gehalte mens. Hy is slim en respekvol.

“Ek het daarom nie gehuiwer om hom as kaptein te bevorder toe ons Michael (Leitch) se rugby (ná ’n besering) reggekry het nie.

“Ons het nou sterk leiers en die lostrio help om die span goed te laat vertoon.”

Labuschagné, Wimpie van der Walt en Kotaro Matsushima is die drie Suid-Afrikaners wat in Japan se 23-tal vir die kwarteindstryd ingesluit is.

Van der Walt en Amanaki Mafi, wat die eerste keer sedert die Ierse toets weer ná ’n besering beskikbaar is, se insluiting op die bank is ’n aanduiding dat Japan kennis geneem het van die Bokke se ses voorspelers op die bank.

In nog ’n interessante skuif is Ryohei Yamanaka op heelagter gekies, met William Tupou wat sy plek in die 23-tal ná die Skotse toets kwyt is.

Joseph het met die bekendmaking van sy span aangedui hulle weet wat om Sondag van die Bokke te verwag.

“Dis duidelik wat die Bokke deur ses voorspelers te kies wil doen. Hulle gaan met hul voorspelers speel.

“Hulle gaan ook die teenstander die bal gee en met hulle verdediging druk op ons plaas.

“Wat nie duidelik is nie, is wat ons gaan doen. Dit is waarna ek uitsien.”

Die 49-jarige Joseph, wat saam met Tony Brown en Scott Hansen die Kiwi’s in Japan se afrigtingspan is, het gesê hy het ’n baie hoë agting vir die Bokke.

Lappies Labuschagné speel sover ’n barshou vir Japan in die WB-toernooi. Foto: Getty Images

“Ek het Suid-Afrika die meeste van enige land as ’n speler gerespekteer,” het Joseph gesê.

“Dit was maar oor die geskiedenis wat daar tussen die lande bestaan.

“As kinders het ons oor daardie ryke tradisie tussen die All Blacks en die Bokke geleer.

“Dit was altyd fantasties om teen Suid-Afrika te speel.

“Jy weet altyd wat jy kry om teen Suid-Afrika te speel. Ek het vir die spelers gesê ’n fisieke stryd wag.

“Deesdae is dit nie net fisiek nie, maar vinnig ook.”

Hy glo die spanne se losmaker in September is tot Japan se voordeel.

Volgens Joseph het sy spelers vanweë hul sukses in die Wêreldbeker sielkundig baie sedert die losmaker teen die Bokke versterk.

* Die Japanse span is: Ryohei Yamanaka, Kotaro Matsushima, Timothy Lafaele, Ryoto Nakamura, Kenki Fukuoka, Yu Tamura, Yutaka Nagare, Kazuki Himeno, Lappies Labuschagné, Michael Leitch (k), James Moore, Luke Thompson, Jiwon Koo, Shota Horie, Keita Inagaki. PLAASVERVANGERS: Atsushi Sakate, Isileli Nakajima, Asaeli Ai Valu, Wimpie van der Walt, Amanaki Mafi, Fumiaki Tanaka, Rikiya Matsuda, Lomano Lemeki.