Die Springbok-slot Lood de Jager sal na verwagting tussen vier en ses maande buite aksie wees nadat hy sy skouer in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi in Japan ontwrig het.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Donderdag bevestig dat hy sy linkerskouer aan die einde van die eerste kwart van die wedstryd beseer het.

“Hy sal volgende week, wanneer die swelling om die skouer gesak het, ’n operasie in Kaapstad ondergaan.

“Die verwagting is dat hy ná vier tot ses maande fiks sal wees,” sê Saru in ’n verklaring.

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Lodewyk de Jager of
Lood de Jager met die Webb Ellis-trofee. Foto: Getty Images

Die nuus kom nadat die Springbok-slot met sy aankoms in Suid-Afrika ’n skandering ondergaan het.

De Jager moet hom volgende jaar by die Engelse rugbyklub Sale in Manchester aansluit.

Die 26-jarige De Jager se Wêreldbekereindstryd teen Engeland is Saterdag in Jokohama in die 21ste minuut met ’n skouerbesering kortgeknip. Franco Mostert het

hom vervang in die kragmeting wat die Bokke met 32-12 gewen het. – Sportredaksie