Hy sal nooit rassisme van enige aard in die Springbok-span toelaat nie, sê Rassie Erasmus.

“Ek kan jou my woord gee dat ek as hoofafrigter glad nie so iets in die span sal duld nie,” sê die Bok-afrigter.

“Daar is niks van daardie aard in die span nie. Die span is ’n hegte eenheid.”

Erasmus het op ’n video-uittreksel van sekere van sy Bok-spelers gereageer wat ’n politieke storm op sosiale media ná die Wêreldbeker (WB)-groepwedstryd teen Italië veroorsaak het.

Die verkeerde afleidings sonder enige feite is van die uittreksel op sosiale media gemaak dat Frans Steyn vir Makazole Mapimpi ná die eindfluitjie in Sjizoeoka sou wegwys toe hulle in ’n klein kringetjie staan.

Erasmus het op Sondag se nuuskonferensie in Kobe waar die Bokke Dinsdagaand teen Kanada speel, perspektief met feite oor die voorval gegee wat enige onduidelikheid uit die weg ruim.

“Ek weet die meeste mense in Suid-Afrika sal dit (die video-uittreksel) in die regte lig wil sien. Ek wil graag hieroor praat aangesien dit my ’n bietjie pla dat ’n paar mense die negatiewe daarin sien.

“In ’n WB-groep van 31 spelers is daar 23 wat die span haal en die res nie. Ons noem die agt wat nie weekliks die 23-tal haal nie, die deurtrekkers. ’n Ou soos Bongi Mbonambi is byvoorbeeld die week ’n deurtrekker, hulle help jou voorberei vir die toets.

“Ons plaasvervangers noem hulself op die oomblik tydens die Wêreldbeker die sogenaamde Bomb Squad. Hulle moet opgaan om iets te herstel as dit nie goed op die veld gaan nie. Of daar kan ’n vals alarm wees en die spelers gaan nie eens op die speelveld nie. Dis ’n grap tussen die spelers.

“Die hele week (voor die toets teen Italië) was die grap dat Lood de Jager nie meer deel van die Bomb Squad is nie aangesien hy deel van die beginspan is. Hulle het Lood geterg omdat hy nie meer deel van die Bomb Squad was nie en ’n eerstekeusespeler is.

Makazole Mapimpi teen Italië in aksie. Foto: Gallo Images

“Teen die einde van die toets het die Bomb Squad bymekaargekom, met Lood wat op pad soontoe was. Frans Steyn het toe vir Lood gewys hy is nie meer deel van die groep nie. Mapimpi was ook op pad na die Bomb squad. Toe hy sien dit was hulle, het hy omgedraai en weggestap.

“Dit is so hartseer dat iemand iets negatiefs daarin wil sien. Iemand wat seker iets negatiefs daarin wil sien, sal dit kry.”

Erasmus was as speler en afrigter deel van verskeie Bok-spanne.

“In die huidige Bok-span is daar nie baie ego’s betrokke nie. Almal wil goed vir Suid-Afrika speel. Ons wil deursigtig wees en hê die land moet saamstaan. Ons wil hê die mense moet ons weer ondersteun – maak nie saak of hulle negatief of positief is nie. Ons wil net hê hulle moet oor ons praat en deel van ons wil wees,” sê hy.

“Ons aanvaar selfs die kritiek, want ons wil hê die ondersteuners moet voel ons is hulle span. Hulle moet geregtig voel om ons te kritiseer of ons goed speel of nie.”

Hy sê die beste spelers uit die 60 miljoen mense in Suid-Afrika word gekies.

“As ons uit alle bronne tot ons beskikking kies, het ons ’n sterk grondslag. Dit is waarheen ons op pad is.”

* Mapimpi het ook Saterdag ’n video op sosiale media geplaas waarin hy die saak regstel.

“As ’n span is ons ’n eenheid,” sê Mapimpi nadat hy verduidelik wat Erasmus ook nou opgeklaar het.