Tydens ’n effens bisar mediakonferensie Maandag het die Engelse stut Joe Marler dit op hom geneem om te verseker dat joernaliste vertroud is met etiket tydens ’n tradisionele bad in Japan.

Dié 29-jarige rugbyspeler het nie soos verwag is juis gesels oor die Engelse se volgende Wêreldbeker-wedstryd teen Argentinië nie, maar oor die reëls wat vereis word wanneer jy ’n onsen – ’n tradisionele Japanse bad – binnegaan.

Onsens word gewoonlik in hotelle in Japan gevind en daar word van gebruikers verwag om in hul adamsgewaad te bad.

Nadat Engeland Amerika verlede week met 45-7 afgeransel het, het die spelers en joernaliste een van dié baddens in Kobe gedeel.

“Blykbaar het julle klomp die Japanse kultuur aanstoot gegee,” het Marler spottend aan die media gesê.

“Jy is nie veronderstel om ’n kortbroek in die onsen te dra nie,” het Marler se spanmaat Ellis Genge bygevoeg.

“Dit sê spesifiek geen kortbroeke nie,” het Marler benadruk.

“Ek het met ’n frokkie ingegaan om my tatoeërmerke te verbloem en ook met sokkies, maar niks hier nie (hy het beduie na die onderste deel van sy lyf), want ek wou hulle nie aanstoot gee nie. En steeds gaan julle (joernaliste) in met jul swembroeke. Dit is belaglik.”

Wêreldrugby het in Desember ’n beroep op spelers en ondersteuners gedoen om hul tatoeërmerke te verbloem in openbare plekke soos onsens en die gasheerland se etiket en gebruike te respekteer.

Ná Marler se opmerkings, wat op ’n lighartige manier gesê is, was die Japanse joernaliste sowel as die tolk teenwoordig duidelik verward. Toe het die voorryman sy aandag na Saterdag se kragmeting teen die Poemas verskuif.

Die wedstryd kan maklik voorlangs beslis word met die tweestryd tussen Marler en die Argentyn Enrique Pieretto wat beloof om ’n hoogtepunt te wees.

Toe die twee spanne in 2016 kragte gemeet het, is Pieretto afgestuur nadat hy Marler teen die kop gestamp het. Marler het hom toe ’n geelkaart op die lyf geloop.

“Hy het my teen die kop gestamp, omdat ek aan sy been vasgeklou het, so dit was my eie fout. Maar jy kan nie meer aan mense stamp nie, en dit was die regte beslissing om my ’n geelkaart te gee,” het Marles gesê en toe weer teruggekeer na sy gunsteling onderwerp van die dag.

“Jy het die geleentheid gehad om ’n ordentlike vraag te vra, jy was die laaste en toe vermors jy dit hiermee. Jy moet ophou om ’n kortbroek te dra as jy na die onsen gaan,” het Marler aan die betrokke joernalis gesê. – Reuters