Australië se breier Michael Cheika het Fidji daarvan beskuldig dat hulle die Wallaby-vleuel Reece Hodge agter sy rug uitgewys het vir dissiplinêre aksie, oor sy plettervat wat daartoe gelei het dat Peceli Yato harsingskudding opgedoen het.

Michael Cheika / Foto: Getty Images

Cheika het volgens AFP gesê dit is “teleurstellend” dat Fidji die voorval na die uitwysbeampte verwys het, omdat die afrigter John McKee en sy personeel ná Saterdag se wedstryd tyd saam met die Wallabies se afrigtingspan deurgebring het en die saak nie aangeroer het nie.

Fidji het met 11-7 voorgeloop toe Hodge se plettervat Yato nie net van ’n drie weerhou het nie, maar ook sy wedstryd beëindig het. Waar Yato van die veld is met harsingskudding het Hodge ’n drie en ’n strafdoel bygedra om Australië tot ’n sege met 39-21 te help.

“Ná die wedstryd het ons ’n vriendelike gesprek gehad met McKee en die afrigters. Daar was geen sprake van enigiets (omstrede) nie. Om dan te hoor ’n speler is uitgewys is regtig teleurstellend,” het Cheika gesê.

“Ek sou dit verkies het as hulle na my gekom het en teenoor my daaroor kwaad geraak het as dit hulle omgekrap het, eerder as om ’n vriendelike gesprek met my te hê en die voorval dan agter my rug te gaan verwys.”

Die uitwysbeampte het ná Fidji se klagte besluit om wel teen Hodge op te tree, sodat ’n dissiplinêre verhoor nou op die vleuel wag. Dit kan moontlik tot ’n skorsing lei.

“Ek was verras dat dit uitgewys is. Ek het (die voorval) nie eens raakgesien nie,” het Cheika gesê.

– Sportredaksie