Makazole Mapimpi en Frans Steyn is die twee grootste gevaarmanne in die Springbokke se agterlyn, sê Namibië se aanvalsafrigter, Mark Jones.

Jones is ’n voormalige Walliese vleuel en een van 16 lede op Namibië se bestuurspan. Dis net vier lede minder as die Bokke se bestuurspan van 20.

“Hulle het opwindende agterspelers,” het Jones oor Saterdag se Wêreldbeker (WB)-wedstryd in Toyota gesê.

“Hulle het ’n kragtige wapen in Mapimpi en Steyn is ’n baie ervare speler in die middelveld. Dit voel asof Frans al vir ewig speel vanweë als wat hy op ’n jong ouderdom bereik het.”

Mark Jones. Foto: Getty Images

Jones sê die Bokke het ’n enorme hoeveelheid wapens in hul agterlyn-arsenaal en ’n baie ervare en groot pak voorspelers.

“Miskien maak hulle ’n paar foute en bied ons omgekeerde balbesit? Dis waarvoor ek hoop. Maar ons moet op onsself vertrou om veerkragtig te wees op die verdediging, so aggressief te wees soos ons kan wees en ons bes probeer om vuur met vuur te beveg.”

Jones verwag weekliks verbetering van sy span en maak nie ’n geheim daarvan dat hulle die kragmeting met Kanada teiken as die een wat hulle kan wen nie.

Namibië het tot dusver al 20 sy toetse verloor in die WB-toernooie waaraan hy deelgeneem het.

“Ons het nog drie moeilike wedstryde oor. Om te wen, gebeur nie net vanself nie. Jy moet sorg dat jy nie dieselfde foute begaan as wat jou duur in vorige wedstryde te staan gekom het nie,” sê hy.

“Ons wil die volgende tree (na bo) gee. Die laaste kans (vir ’n eerste WB-oorwinning) sal waarskynlik Kanada wees. Ons moet dus seker maak dat ons spel op die beste plek is wat dit in die daardie wedstryd kan wees, want daar sal nie tweede kanse wees nie.”

* Rassie Erasmus se Bok-bestuurspan bestaan soos Heyneke Meyer s’n in 2015 uit 20 lede vir vanjaar se WB-toernooi in Japan.

Die Bokke se WB-bestuurspan is:

Rayaan Adriaanse (mediaskakelbeampte), Russel Belter (videografie), Annelee Murray (bestuurder van openbare skakeling), Andy Colquhoun (mediabestuurder), JJ Fredericks (logistieke bestuurder), Charles Wessels (bedryfshoof), Zeenat Simjee (dieetkundige), Tanu Pillay (fisioterapeut), Viviant Verwant (fisioterapeut), René Naylor (fisioterapeut), Jerome Mampane (dokter), Konrad van Hagen (dokter), Eugene Henning (spelerverhoudinge), Lindsay Weyer (tegniese ontleder), Felix Jones (verdedigingskonsultant), Aled Walters (kondisioneringshoof), Mzwandile Stick (hulpafrigter), Matt Proudfoot (hulpafrigter), Jacques Nienaber (hulpafrigter) en Erasmus (hoofafrigter).