Die enigste kans wat Japan Sondag het om Suid-Afrika in die Wêreldbeker-kwarteindstryd te klop, is indien die Springbokke swaar by die afbreekpunte gestraf word.

So sê die voormalige Bok-stut CJ van der Linde (39), wat Suid-Afrika in 75 toetse in sy speeldae verteenwoordig het, oor Sondag se kragmeting in Tokio.

“Dit hang alles van die skeidsregter af. (Wayne) Barnes (wat die wedstryd beheer) is ’n goeie skeidsregter en ek dink nie daar sal probleme wees nie. As dit nou ’n Fransman soos (Romain) Poite was, sou ons bekommerd moes wees, want die Franse is mos maar temperamenteel,” sê hy.

Jamie Joseph, afrigter van Japan. Foto: Getty Images

“Ek kan nie dink dat Japan ons by die vaste fasette of op die verdediging sal kan uitoorlê nie. Tensy die skeidsregter op die dag besluit om ons by die afbreekpunte te straf, sal ons nie verloor nie.”

Van der Linde, wat in Japan woon, is die skrumafrigter van die Japannese klubspan Canon Eagles, wat deur Allister Coetzee, ’n oudafrigter van die Bokke, gebrei word.

“Die Bokke is te sterk vir Japan en gaan maklik wen. Tog is Japan nie swak nie. Hulle speel ’n vinnige spel en is ’n fikse span. Ek twyfel egter of Japan sy wedstrydplan sal kan aanpas en dalk ’n skopwedstryd sal kan speel as dit van hom verwag word,” sê Van der Linde, wat deel van die Springbok-span was wat in 2007 die Wêreldbeker verower het.

Hy het Suid-Afrika ook by die WB-toernooi in 2011 in Nieu-Seeland verteenwoordig.

Volgens hom is die Brave Blossoms ’n span wat in die toekoms selfs nog beter rekenskap van homself kan gee.

“Ek dink met die Wêreldbeker wat hier beslis word, het dit baie gehelp om die spel te bevorder. Die Japannese is ’n trotse nasie met ’n goeie werksetiek,” sê hy.

“Sedert 2011 het afrigters soos Eddie Jones (wat Engeland tans afrig en Japan van 2012 tot 2015 gebrei het) en Jamie Joseph (tans Japan se breier) baie gedoen om die spelers se ingesteldheid te verander. Daar was altyd ’n ingesteldheid om net tou op te gooi, maar onder veral Joseph is daar ’n geloof by die spelers dat hulle iets kan bereik.”

As daar egter een wedstryd is wat ek dink ’n opskudding kan oplewer, is dit die een tussen Ierland en die All Blacks. Dit gaan baie naby wees, met die Iere wat kan verras.

Groot name is ook van oor die wêreld gelok om in die (Japanse) Topliga te speel.

“Dit het die spel in die land baie bevorder het – hoewel dit tyd gaan neem om deur te syfer,” sê Van der Linde.

Wat die ander kwarteindstryde betref, glo hy Wallis, “wat op ’n goeie plek is”, behoort met Frankryk af te reken en dat Engeland te sterk vir Australië gaan wees.

“As daar egter een wedstryd is wat ek dink ’n opskudding kan oplewer, is dit die een tussen Ierland en die All Blacks. Dit gaan baie naby wees, met die Iere wat kan verras.”